Wednesday, June 6, 2012

'Wit boere se veiligheid nie gewaarborg'

Johannesburg – AfriForum en TLU SA gaan aanklagte teen die adjunk-president van die ANC-jeugliga, Ronald Lamola, bring oor opmerkings wat hy oor grondhervorming gemaak het, het die groepe Woensdag gesê.

“AfriForum wil aanklagte teen Lamola by beide die gelykheidshof en die polisie indien om te verseker dat sulke uitlatings onder beheer gebring word,” het die organisasie se regsverteenwoordiger, Willie Spies, in ‘n verklaring gesê.

Hy sê Lamola se opmerkings kom neer op haatspraak en val binne die definisies van aanhitsing tot geweld.

Die landbou-organisasie TLU SA sê hy is “gewalg” deur Lamola se aanmerkings en sal ‘n aanklag indien by die menseregtekommissie.

“TLU SA het sy regspan beveel om met die sterkste moontlike maatstawwe teen Lamola, die ANC-jeugliga, die ANC en sy president te begin.”

Lamola het Dinsdag gesê die grondwet moet aangepas word om die onteiening van grond sonder vergoeding toe te laat.

Hy het gewaarsku as wit Suid-Afrikaners nie grond aan arm swart mense oorhandig nie, sal grondbesetting plaasvind soos wat in Zimbabwe gebeur het.

Spies sê Lamola het spesifiek verwys na, onder andere, “die Van Tonders en die Van der Merwes op plase” en het gewaarsku dat hul veiligheid nie gewaarborg kan word nie.

Die woordvoerder vir die ANC-jeugliga, Magdalene Moonsamy, sê die groepe moet “gereed wees vir die stryd van hul lewe”.

“Ons verwelkom hierdie oorlog en ons sal nie terugstaan nie. Ons is vasberade dat hierdie kwessie van grond nie onderhandel kan word nie en ons sal op geen punt terugstaan nie,” het sy gesê.

– Volg Nuus24 op Twitter

No comments:

Post a Comment