Tuesday, June 12, 2012

Vrou snel man te hulp in aanval

André Damons



SONDER om twee keer te dink het ’n Bloemfonteinse ma van twee haar man te hulp gesnel toe hy deur vyf rowers voor hul huis aangeval is.

Petro McGregor (53) het twee van haar man, Stuard (55), se aanvallers, wat met pistole en messe gewapen was, van hom afgeskop. Sy wou terughardloop na die huis, maar een van die rowers het haar voete onder haar uitgeskop. Sy is toe herhaaldelik geskop. Haar angsgille het waarskynlik haar en haar man se lewe gered.

Stuard, ’n sakeman, sê hy het Vrydag kort voor 20:00 by hul huis in Klaradynlaan, Pellissier, aangekom en wou vrugte uit sy bakkie haal toe hy deur drie mans aangeval is.

Een van die mans het hom met ’n skokstok in die nek geskok.

“Die skok het my net laat skrik. Ek het die een aan my linkerkant met my elmboog in die mond geslaan. Daar het later nog twee bygekom. Hulle het my grond toe geduik en (met ’n mes of messe) in die skouer en kop gesteek.”

Die mans het hom van sy beursie, selfoon en hangertjie gestroop.

“Dit het alles so vinnig soos weerlig gebeur.”

Sy vrou sê: “Dit was traumaties om hom so te sien. Ek het nie geweet of hy dood is, of gesteek is nie.

“Ek het nie aan my veiligheid gedink nie, want ek kan nie sonder hom lewe nie.”

Stuard sê dit was vir hom ook baie ontstellend om te sien hoe sy vrou, terwyl sy op die grond lê, herhaaldelik deur die rowers geskop word.

Die aanvallers het hulle met pistole gedreig.

Sy vrou se angsgille het hulle waarskynlik gered.

Hy is deur sy skoonseun na die Life-Rosepark-hospitaal gebring.

Stuard sê: “Ek wil nie elke dag met ’n pistool rondloop nie, want ek is nie besig met ’n oorlog nie. Ons bly mos in vrede. Ek wil nie so lewe nie.”

Die egpaar sê hulle is erg getraumatiseer en selfs bang om uit hul huis te gaan.

“My vrou is besig om die sig in haar regteroog te verloor weens die skok. Sy kry behandeling, want sy huil elke 10 minute.”

Kapt. Chaka Marope van die polisie sê die rooftog word ondersoek. Die rowers is nog op vrye voete.

No comments:

Post a Comment