Sunday, June 3, 2012

Ouma met strykyster gebrand, verwurg

Gavin Prins
’n Bejaarde vrou is Vrydagaand deur rowers met ’n strykyster op die maag gemartel en met kook­water gebrand voordat sy vermoedelik doodgewurg is.

Julie Cruse (72) se hande is agter haar lyf vasgebind en sy het ’n kous in haar mond gehad.

Sy was die eienaar van ’n drankwinkel op Pullenshope net buite Middelburg in Mpumalanga.

’n Serp wat styf om haar nek gebind was, is ’n aanduiding dat sy moontlik doodgewurg is.

Cruse het Vrydag omstreeks 19:00 haar winkel gesluit.

Die vermoede is dat die aanvallers haar by haar huis in Protea­straat ingewag en oorval het.

Sy is na haar slaapkamer gevat en verskeie kere in die gesig geskop.

’n Strykyster, wat gisteroggend nog aangeskakel was toe haar lyk gekry is, is gebruik om haar maag te brand.

Daar is ook ’n ketel naby Cruse se lyk in die slaapkamer gevind. Kookwater is oor haar bene gegooi.

Cruse het alleen gewoon.

’n Werker in die winkel, Maria Mogolo, het gisteroggend op haar lyk afgekom.

“Ek het kom kyk waar sy is omdat die winkel nog nie oopgemaak was nie,” het Mogolo gistermiddag huilend gesê.

“Toe ek op die werf stap, het ek die garage se deur oop gekry.

“Die voordeur was ook oop en Mevrou het in haar slaapkamer op die vloer gelê,” het sy gesê.

“Ek het haar geterg toe ek na haar kamer toe stap en haar gevra of sy al wéér geval het.

“Maar toe ek die bloed by haar mond sien uitkom, het ek geweet Mevrou is dood.”

Mogolo het Ron Cruse (75), die oorledene se eksman wat in dieselfde straat woon, gaan roep.

Hy het die polisie ontbied.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Die polisie se forensiese afdeling het die huis gister vier uur lank vir vingerafdrukke gefynkam.

“Ek kan verstaan dat hulle gels wou hê, maar om iemand só wreed te vermoor?...” het Cruse gister gesê. Die aanvallers het R5 000 gebuit, asook parfuum, drie pare vroueskoene en ’n goue ketting.

“Haar motor is agtergelaat en nog talle ander duur stukke juweliersware is ook gelos,” het Cruse gesê.

“Dinge is nog deurmekaar. Haar identiteitsboek het verdwyn en ek soek ook haar testament.”

Die drie Cruse-kinders, Debbie, André en Tanya, woon in Johannesburg en het op aanbeveling van hul pa nie hul ma se huis besoek nie.

Sy laat ook ’n kleinkind, Gerhard, agter.

’n Lykskouing word môre gehou.

No comments:

Post a Comment