Thursday, June 14, 2012

Huishulp en boer geskiet

André Damons



’n JONG tuinhulp wat sy werkgewer op ’n plaas by Soutpan, naby Bloemfontein, ’n tweede keer wou skiet, het sy rieme styfgeloop nadat die gewonde boer hom beetgepak het.

Die jong skieter, wat elke Donderdag in Leonard Haasbroek (58) se tuin gewerk het, het gisteroggend eers die huishulp, Angelina Rakholotso (33), in die arm geskiet.

Hierna het hy vir Haasbroek in die plaashuis ingewag en hom ook gewond.

Sers. Ian Goabepe, polisiewoordvoerder, sê die jong man wou Haasbroek ’n tweede keer skiet, maar die skoot het nie afgegaan nie.

Dit is toe dat Haasbroek hom getakel het om hom te ontwapen.

Die seun het homself uit sy baadjie en trui gewikkel en weggehardloop. Hy het egter nie ver gekom nie. Sers. Tabang Mosase, van die Soutpan-polisiekantoor, het hom aangekeer.

Haasbroek en Rakholotso is glo met Haasbroek se eie pistool geskiet. Hoe die jong tuinwerker dit in die hande gekry het, is nog nie bekend nie.

Wat die motief vir die skietery was, is ook nog nie bekend nie, sê Gaobepe.

Slegs ’n paar rand is uit ’n beursie gesteel.

Goabepe sê Rakholotso is laatoggend in haar regterbo-arm geskiet nadat die jong man aan die agterdeur geklop en ’n lepel gevra het.

Daarna het hy Haasbroek in die huis ingewag.

Haasbroek en Rakholotso is deur die ambulans-en-reddingsdiens ER24 onderskeidelik na die Mediclinic Bloemfontein en die trauma-eenheid van die Pelonomi-hospitaal gebring.

Mnr. Thys Grobler, ’n buurman, het gesê hy het kort ná die skietery met Haasbroek gepraat.

“Hy was op pad hospitaal toe en het gesê dit gaan goed. Hy is ’n rustige mens wat niemand gepla het nie. Hy is ’n goeie buurman.

“Dit is sleg. Ons het nie sulke mense in ons omgewing nodig nie.”

Die jong skieter het gister geweier om met polisiebeamptes te praat.

Twee klagte van poging tot moord en ’n klag van huisroof word voorlopig ondersoek.

Die jong skieter sal eersdaags in die hof verskyn.

Haasbroek woon alleen op die plaas. Sy vrou en kinders is op sy ander plaas by Smithfield.



- Volksblad

No comments:

Post a Comment