Thursday, June 21, 2012

Boer doodgeskiet

Marietie Louw-Carstens



BALTIMORE. – ’n Plaasvrou van hier wat drie keer langs haar man in die bed geskiet is, sal waarskynlik verlam wees indien sy die aanval oorleef.

Gloudien van Rensburg (65) veg om haar lewe in die Mediclinic Limpopo in Polokwane.

Haar man, Johan, (77), is doodgeskiet op die Cosmopolite-wildplaas, sowat 11 km van Baltimore, op die pad na die Groblersbrug-grenspos op die Botswana-grens.

Volgens haar familie het die dokter gesê sy sal moontlik verlam wees. Sy is nog nie geopereer om die koeëls te verwyder nie.

Francois Moolman, ’n professionele jagter op die Cosmopolite-plaas, het gister net ná 04:00 op die bebloede egpaar afgekom. “Die oom was klaar dood. Die tannie het net gesê ‘help my, help my’.”

Vier Amerikaanse toeriste wat op die plaas kom jag het, het gisteroggend wakker geword van geweerskote.

Moolman en Kayne Edwards, die plaasvoorman wat in ’n ander huis op die werf woon, het ook wakker geword.

Die Amerikaners, wat gister te geskok was om oor die voorval te praat, het vier mans uit die badkamervenster van die hoofhuis sien spring.

Moolman en Edwards het in die huis ingegaan en dadelik Hanno van Rensburg, die egpaar se seun op die buurplaas, gebel.

Boere in die gebied is onmiddellik op die burgerbandradio van die aanval laat weet. Paaie in die gebied is afgesper.

Gloudien van Rensburg is met ’n noodhelikopter na Polokwane gebring

Die aanvallers het ’n gat in die elektriese heining om die huis gesny. Hulle het toe die diefwering voor die badkamervenster oopgebuig.

Die polisie se honde-eenheid het gisteroggend saam met boere voetspore van vier mans in die lemoenboord buite die huis gekry. Private helikopters is saam met die polisiehelikopter ingespan in die soektog. Die voetspore het sowat ’n kilometer verder by die Baltimore-pad doodgeloop.

Neels Hennop, ’n boer van die gebied, sê hulle het ’n panga en ’n blikkie Zam-Buk-salf by die ingang na die plaas opgetel. “Ons dink iemand in ’n motor het hulle in die pad opgelaai.”

No comments:

Post a Comment