Monday, June 4, 2012

Sheldean se ma aangeval

Hilda Fourie
Dit is danksy “die Here se genade” dat die vermoorde Sheldean Human (7) se ma nie gisteroggend óók vermoor is nie.

So het Elize Human (52) gesê nadat sy op pad werk toe naby die Apiesrivier in die weste van Pretoria deur drie mans aangeval is en een ’n mes teen haar keel gedruk het voordat hulle met haar fiets gevlug het.

Die aanval was in Van der Hoffweg op pad na E’skia Mphahlelerylaan (D.F. Malanrylaan). Dié gebied is vir die polisie ’n gevaarpunt waar mense gereeld aangeval en beroof word.

In Maart vanjaar is drie lyke binne drie dae in die Apiesrivier gekry, minder as ’n kilometer van waar Human aangeval is.

“Dié is ’n hot spot vir misdadigers en niemand doen niks daaraan nie,” het Human gesê.

“Iets moet gedoen word om dié plek te beveilig.”

Human was omstreeks 05:45 op pad met haar fiets van haar woonstel in Pretoria-Tuine na die Premos-opleidingsentrum waar sy werk.

Sy ry teen die verkeer in omdat daar nie aan die oorkant van die pad ’n geel streep is waarin sy kan ry nie.

Human was besig om die opdraande na E’skia Mpha-hlelerylaan uit te trap toe drie mans haar oorval het. Hulle het haar omgestamp en sy het op die grond geval.

“Toe ek daar lê, het een van hulle ’n mes teen my nek gedruk,” het sy gesê.

“Ek het geskree. So hard as wat ek kan. Maar niemand het my gehelp nie.

“Hy het gesê: ‘Sssh, sssh’”.

Die man het Human se heupsak onder haar baadjie probeer afruk. Human het haar skokstok gedruk wat in haar hand was. Dié het die man vermoedelik afgeskrik. Hy en sy makkers het met Human se fiets gevlug.

Toe die rowers weg is, het sy geskree, maar niemand het tot haar hulp gekom nie. Sy het ver na die Hercules-polisiekantoor gestap en die rooftog aangemeld.

Volgens Human sou sy dood gewees het as dit nie vir die skokstok was nie. Dié het sy aangeskaf nadat sy sowat ’n jaar gelede ook in E’skia Mphahlelerylaan van haar fiets beroof is.

Kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van gewapende roof word ondersoek. Human se aanvallers is nog soek.

“Die bosse is problematies omdat die rowers maklik daarin kan wegraak. Dié bosse word gereeld deur die polisie deursoek,” het Msimango gesê.

No comments:

Post a Comment