Tuesday, June 5, 2012

‘Ek kon pa nie groet’

Nicolize van der Walt
Klerksdorp. – ’n Huilende vrou se pleidooie aan ’n verkeersman om haar toe te laat om haar sterwende pa te gaan groet, het op dowe ore geval.

Haar pa is dood terwyl sy geboei voor die hospitaal by die verkeersman gepleit het.

Hesta Kotze, ’n aktetikster van Klerksdorp, het Saterdag net ná middagete op die N12 na die Mediclinic in Potchefstroom gery. Die hospitaal het haar laat weet sy moet vinnig kom omdat haar pa, Koot de Beer, sterwend is.

Volgens Kotze het ’n verkeersbeampte naby die Ikageng-ingang in die pad gespring om haar af trek.

“Ek het dalk nog 120 km/h gery.

Ek het na die ander baan oorgegaan en vir hom gewys hy moet kom, ek het sy hulp nodig. My hoof- en noodligte was aan.”

Die beampte, Pape Hadebe, het haar agtervolg en skerp voor haar ingedraai, stilgehou en uit sy motor gespring. Sy het om hom gery, op haar horlosie gewys en vir hom gewink om saam met haar te ry.

Sy het tot by die Mediclinic gery en Hadebe het glo die ingang met sy motor versper. Sy het uitgeklim en wou na die ingang hardloop.

“Ek wou net by my pa kom. Die verkeersbeampte het my teen die heining gestamp. Hy wou my boei en ek het vir hom gesê my pa is besig om dood te gaan.

Hy het gesê: ‘Shut up, bitch.’ Ek het gepleit en gekeer vir die boeie – toe spuit hy my met pepersproei. Ek was histeries...”

’n Ooggtuie, wat anoniem wil bly, sê Kotze is op die grond neergegooi. Hadebe het sy elmboog glo in haar nek gedruk en sy knieë agterop haar rug. Volgens die man het die beampte gesê sy gaan tronk toe en klaar.

“Hy het vir almal wat daar gestaan het gesê sy het 240 km/h gery. Dis belaglik. Daardie bakkie van haar kan nie eens so vinnig ry nie.”

Marike Kriek, nog ’n omstander, vertel sy was geskok toe sy sien hoe Kotze behandel word.

“Sy het heeltyd gepleit om haar pa te sien. Hy het ander mense wat wou naderkom, gedreig met pepersproei en dat hy hulle ook gaan boei.”

Omstanders, personeel en selfs ’n predikant het gepleit dat Kotze na haar pa kon gaan.

Hy is intussen dood en sy is na hom geneem. Sy is daarna na die polisiekantoor gevat en is borgtog toegestaan.

Alle aanklagte is eergister in die Potchefstroom-landdroshof teen haar teruggetrek.

Sy is egter bitter. “Hy het my (dit) ontneem om ordentlik van my pa afskeid te neem.

Toe ek aan hom raak, was hy al koud en ek kon nie behoorlik groet nie. Ek kon ook nie daar wees vir my ma in haar slegste tyd nie. Ek het hierdie vreeslike seer in my en is baie kwaad.”

Kotze gaan siviele stappe teen die verkeersman doen.

No comments:

Post a Comment