Tuesday, June 5, 2012

Seun sien hoe 2 sy polisie-pa skiet

Hilda Fourie
Een van Pretoria se “beste polisiemanne” is gister doodgeskiet.

Sy tienjarige seun moes toekyk hoe twee aanvallers sers. Bruwer Smit, alombekend as Smittie, van die Lyttelton-polisiekantoor naby die Zandfontein-begraafplaas doodskiet.

Jean-dre Smit is saam met sy pa oorval terwyl hulle op hul bergfietse in die veld langs die Mabopane-hoofweg, in die weste van Pretoria, gery het.

Die aanval het sowat 400 m van die hoofweg af gebeur.

Kapt. Agnes Huma, polisiewoordvoerder, het gisteraand op die toneel gesê twee mans het Smit-hulle oorval.

Jean-dre is blykbaar met sy skoenveters vasgebind voordat Smit in die nek geskiet is.

Huma het gesê die twee mans het Smit se skoene daarna uitgetrek en daarmee en met die twee fietse gevlug.

Jean-dre het die skoenveters om sy voete met ’n klip stukkend gekap, na die hoofweg gehardloop en ’n motor voorgekeer.

Die motoris het hom na die Hercules-polisiekantoor geneem.

Smit is op die toneel dood.

’n Saak van moord en gewapende roof word ondersoek.

Lede van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en polisielede het meer as ’n uur lank in die bosse na Smit se moordenaars gesoek, maar niks gekry nie.

Beeld het gisteraand laat verneem dat die twee aanvallers net ná die moord met die fietse langs die Mabopane-snelweg afgestap en nog ’n man van sy geld en selfoon beroof het.

Brig. André Wiese, Smit se vorige bevelvoerder, het gisteraand gesê Smit was een van die beste polisiemanne met wie hy in jare saamgewerk het.

“Hy was ’n ou wat nooit ophou soek het voordat hy ’n misdadiger gekry het nie. Hy was ’n toegewyde polisieman.”

Die aanval het op dieselfde plek gebeur waar die voormalige Comrades-kampioen Nick Bester in Oktober 2010 van sy fiets afgegooi, geskop, geslaan en met ’n mes gedreig is.

Bester (51) se een rib is in die aanval gebreek. Sy bergfiets van R50 000 is geroof.

No comments:

Post a Comment