Wednesday, June 6, 2012

‘Help my’ – toe skiet hul

Hanti Otto
‘Ons het my kind na die kar gesleep om haar by die hospitaal te kry. Maar ons kon haar nie inlaai nie. Ons kon haar nie opgelig kry nie.

“Toe gaan sit my vrou op die grond, hou Arina vas en huil: ‘Here, hóékom het Jy dit gedóén?’”

’n Betraande Jan Muller (58) het gister vertel hoe sy oudste dogter tydens ’n aanval op hul hoewe in Mnandi, suid van Centurion, vermoor is.

Arina Muller (29) se laaste woorde was: “Mamma, help my.” Toe skiet die rowers.

Muller vermoed die aanvallers, in die omgewing bekend as “Laurel en Hardy”, was dieselfde twee wat hom in Januarie op die hoewe aangeval en sy hond geskiet het.

Arina, ’n areabestuurder van Multiserv, het eergister kort voor 21:00 van die gimnasium af tuis gekom.

“Ek dink die rowers het agter haar ingeglip,” het Muller gesê.

Sy vrou, Kitty, was eerste by toe Arina om hulp geskreeu het.

Skote het geklap. Een het Arina in die bors getref en die aanvallers het gevlug.

Haar ouers het haar na die motor gesleep om haar hospitaal toe te neem, maar hulle kon haar slap lyf nie opgelig kry nie.

“Ek het nie my bril gehad nie, ek kon nie sien nie. En ek het ’n knie-vervanging gehad. My Achilles-tendon is in daardie Januarie-aanval geskeur. Ek kón nie my kind in die kar kry nie,” het Muller gesê.

Hy het die Mnandi-buurtwag gebel, wat die polisie en nooddienste gebel het. “Maar ek dink Arina was reeds dood toe ons haar uitgesleep het,” het hy gesê.

Sy dogter was ’n kranige fietsryer met baie vriende.

“Sy het ná skool in Engeland en Dubai gewerk,” het Muller gesê.

Haar suster, Janie (26), het bygevoeg: “Arina was so liefdevol. Toe ons hier aankom nadat my pa ons gebel het, het sy nog op die grond gelê. Sy was toegegooi. Dit was toe ek haar tekkies sien uitsteek dat ek besef het dit is regtig Arina wat daar lê.”

Haar lyk moes nog uitgeken word, maar die gesin het eers gewag vir hul seun, Johannes (22), wat in Potchefstroom studeer.

“My vrou kry so swaar. Hoe troos ek haar?” het Muller gevra.

“Mense kom troos, bring kos. Maar dit maak my kind nie reg nie. Ek het die aanvallers al gevloek, maar dit gaan haar nie terugbring nie.”

No comments:

Post a Comment