Monday, June 4, 2012

Rowers skiet man, honde vergiftig

Alta Snyman ’n Man (54) is in ’n ernstige toestand in ’n Rustenburgse hospitaal opgeneem nadat hy eergisteraand op ’n hoewe buite Mooinooi twee keer geskiet is. Neels van der Westhuizen (54) en sy vrou, Amanda-Louise (50), was alleen in die huis toe hulle teen omstreeks 21:00 hul honde gehoor blaf het. Die honde het later stil geraak. Dit het later geblyk die honde is vergiftig. Net een van die drie kon gered word. Die egpaar het uitgegaan om ondersoek in te stel toe Amanda-Louise mense gesien het. Neels wou glo met sy flits na die een man slaan toe dié hom skiet. Amanda-Louise se broer, Koos Mouton, die eienaar van die hoewe, sê die aanvaller het Neels met die vuurwapen oor die kop geslaan en weer geskiet. Die een skoot is by sy nek in en agter by sy blad uit en die tweede is onder sy naeltjie in. Amanda-Louise is ook met die wapen geslaan en gedreig dat hulle haar gaan doodmaak. Hulle het ook ’n kous in Neels se mond gedruk. Die aanvallers is met die Van der Westhuizens se selfone en hul silwer Toyota Hilux-bakkie weg. Volgens Mouton was daar die afgelope drie weke verskeie voorvalle in die distrik. “Die skelms ken die omgewing so goed dat hulle weet presies watter deeltjie van ’n omheining nie deur elektriese sensors gedek word nie. Hulle het net Vrydagaand by so ’n plek oorgeklim. Ek het ’n werkwinkel hier en ’n trekker en ’n kragopwekker se batterye en kabels is toe gesteel. “Ek het elke moontlike veiligheidsmaatreël hier, van alarms tot sensors en veiligheidshekke, en die skelms kom steeds in. Alles kos net geld, geld, geld en vir wat? Goed soos dié (die skietery) gebeur nog.” Hy slaap met ’n koeëlvaste baadjie langs sy bed. Hy trek dit aan wanneer hy snags moet gaan ondersoek instel as hy iets hoor. Talane het bevestig die polisie ondersoek sake van huisroof en poging tot moord. Hy het die publiek gevra om die Mooinooi-polisiekantoor by 014 574 3215 of hul naaste polisiekantoor te bel indien die gesteelde bakkie met registrasienommer CHT 191 L opgemerk word.

No comments:

Post a Comment