Wednesday, April 18, 2012

Weermag ‘kan SA tans nie beskerm’

James-Brent Styan



KAAPSTAD.– Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het nie tans die vermoë om Suid-Afrika te beskerm nie.

Luidens ’n konsepverdedigingsoorsig van die SANW wat Die Burger gister onder oë gehad het, het die weermag só agteruitgegaan dat dit selfs met onmiddellike ingryping deur die regering tot tien jaar kan duur om die weermag weer tot die vlak van ’n “beperkte” verdedigingsvermoë te kry.

Dit blyk ook die weermag het nie die vermoë om die landsgrense te bewaak nie. Boonop het Suid-Afrika slegs ’n beperkte bewustheid van wat in sy lugruim aangaan en is daar byna geen maritieme bewustheid van die kuslyn nie.

Die konsepdokument is opgestel deur ’n oorsigkomitee onder leiding van mnr. Roelf Meyer, gewese minister van verdediging.

Me. Lindiwe Sisulu, minister van verdediging, het die komitee verlede jaar aangestel om ’n indiepte-oorsig van die SANW te doen, die eerste sedert 1998.

Meyer het gesê die nuwe oorsig sal die weermag se pad vir die volgende 30 jaar aandui.

“Die oorsig is ’n beleid-en-strategiedokument.”

Meyer het gister gesê die doel van die oorsig was nie om ’n oudit van die SANW te doen nie.

“Dit is eintlik ’n stuk gereedskap wat die minister kan gebruik om vir meer geld te gaan vra.”

Mnr. Siphiwe Dlamini, woordvoerder van die departement van verdediging, het gesê Sisulu sal die finale dokument aan die parlement voorlê.

“Met die vorige oorsig is die fout gemaak waar ’n magsbeleid ontwerp is wat onbekostigbaar was om toe te pas.”


- Die Burger

No comments:

Post a Comment