Thursday, April 12, 2012

Geskiet voor sy gesin

Gerhard Pretorius en Buks Viljoen
’n Swanger vrou van Hazyview moes saam met haar driejarige seun en vyf maande oue baba toekyk hoe ’n rower haar man vermoor.

Mnr. David Foxon (43), hoofbestuurder van die Umbhaba Lodge, is eergister net ná 20:00 in sy kombuis voor sy vrou, Bianca, en seuntjies, Regan en Braydon, geskiet.

Hy is twee keer in die kop en een keer in die been getref.

Kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê ’n man is gistermiddag laat in verband met die moord in hegtenis geneem.

Twee mans het eergisteraand by die huis ingekom omdat die motorhuisdeur glo oop was.

Die Foxon-gesin het blykbaar aangesit vir aandete toe hulle oorval is.

Hlathi het gesê die rowers het Foxon se hande vasgebind, maar hy kon loskom en het toe een van die rowers gekonfronteer.

“Hy is toe in die proses doodgeskiet.”

Die ander rower was by Foxon se motor wat reeds geluier het.

Mev. Foxon het na buite gehardloop waar ’n beampte van die Hi-Tech-veiligheidsmaatskappy haar gekry het terwyl sy gil: “Help, hulle het my man geskiet!”

Mnr. Jan de Beer, bedryfsbestuurder van Hi-Tech en ’n oudpolisieman, het gesê dit is een van die tonele wat hy nooit weer wil sien nie.

“Ek moes een van my goeie vriende se lyk uit ’n plas bloed optel.

“Hoekom moes ’n wonderlike pa, ’n goeie sportman en ’n geliefde persoon op so ’n onnodige manier vermoor word?

“Die toerismegemeenskap en gemeenskap van Hazyview is geskok deur Dave se dood,” het De Beer gesê.

Me. Linda Grimbeek, woordvoerder van die Lowveld Chamber of Business and Tourism (LCBT), het gesê Foxon was werklik ’n man wat die gemeenskap se belange op die hart gedra het.

“Hy was ’n jong man in sy posisie wat altyd baie professioneel was.

“Hy was ’n geliefde persoon in die omgewing en in die toerismebedryf.”

Volgens Grimbeek het die Hazyview-omgewing verlede jaar erg onder misdaad deurgeloop.

Die Blue Mountain Lodge het verlede jaar sy deure daaroor gesluit.

Mnr. Ken Robertson, DA-raadslid in Hazyview, het gister gesê: “Die sinnelose aanval en moord is nog een in ’n reeks van gewapende rooftogte en moorde in die omgewing en die gemeenskap leef nou al in konstante vrees.”

Hy het ’n beroep op die polisie gedoen om misdaadbekamping in die Hazyview-gebied te verskerp en meer mannekrag en hulpbronne beskikbaar te stel.

- Hlathi het gevra enigiemand met inligting oor die voorval moet kapt. Jacob Mbuyane, ondersoekbeampte, by 082 449 0231 of 013 737 8285 bel.

No comments:

Post a Comment