Monday, April 9, 2012

‘Dis g’n gewone moord’

Charné Kemp
Griekwastad. – Die polisie het laat blyk hulle het dalk reeds die antwoorde op die vrae wat deur die mense van Griekwastad gevra word ná die gesinstragedie op ’n plaas hier waarin ’n egpaar en hul tienerdogter in ’n koeëlreën dood is.

Een van die eerste mense op dié Noord-Kaapse moordplaas het die toneel wat hom begroet het ook gister beskryf as “geen gewone misdaadtoneel nie”.

“Daar was geen tekens van inbraak nie. Die huis is ook nie omgekeer soos ons al by ander plaasmoorde gesien het nie. Ek wonder baie oor dit wat hom daar afgespeel het,” het mnr. Joey Scholtz, voorsitter van die Griekwastad-Agri-Hay-boerevereniging, gister gesê te midde van wye bespiegeling in dié rustige dorp oor die treurspel.

Mnr. Deon Steenkamp (41), sy vrou, Christelle (40), en hul 14-jarige dogter, Marthella, ’n gr. 9-leerling aan die Hoër Meisieskool Oranje, is in die tragedie doodgeskiet.

Die gesin se 15-jarige seun, Don, ’n gr.10-leerling aan Grey-kollege in Bloemfontein, het die treurspel oorleef.

Kol. Hendrik Swart, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie soek nie na ’n verdagte nie.

“Ons kyk na die beskikbare getuies se verklarings en ander leidrade wat op die toneel gevind is.”

Swart sê Steenkamp, sy vrou en dogter is vermoedelik vroegaand doodgeskiet.

Don het gesê hy was in die skuur, het skote gehoor, die huis ingehardloop en op sy ouers en suster se lyke afgekom. Die kluis was oopgesluit.

“Hy het gesê hy het op pad na die dorp twee vuurwapens, .22-geweer en ’n .357 Magnum-rewolwer in die pad sien lê. Hy het dit aan die polisie oorhandig.”

Swart sê Steenkamp jr. het Saterdag ’n verklaring by die polisiekantoor afgelê en die polisie na die plaas vergesel om uitwysings te doen.

Een van die vrae wat hier gevra word en waaroor bespiegel word, is wie het hulle geskiet en waarom?

Scholtz wou hom nie uitlaat oor bloedspatsels teen die muur by die agterdeur van die kombuis nie.

Daar was ook bloeddruppels op die agterstoep en binne op die kombuisvloer.

Sy hart het gebloei toe hy die lyk van die 14-jarige Marthella opgetel het, het Scholtz gister aangedaan vertel.

Mnr. Andries Steenkamp, wyle mnr. Steenkamp se neef en Don se voog, sê hy is geskok en hartseer oor wat op die internet oor die jong Don gesuggereer word.

“Almal het hul eie teorieë, maar ons kyk wat die polisie-ondersoek oplewer.

“Deon se bejaarde ouers in Kimberley is in stukke. Hul dogters vertroos hulle. Christel se familie sal uit die Oos-Kaap kom.”

Gister in die NG kerk Griekwastad het ds. Piet Otto die kruisiging en opstanding van Christus en die treurspel hier gekombineer in sy Pase-preek.

Die hele Griekwastad is diep hartseer, het hy gesê. Mense was ook opstandig toe hulle destyds Christus se bebloede klere gesien het.

“Nuwe lewe word (egter) op wrakstukke gebou. Ons mag nou treur, maar daar is lewe in Christus.”

Otto het nie sy gebruiklike swart pak gedra nie, maar ’n wit pak om die lewe te simboliseer.

“Dit was nie ’n begrafnisdiens nie, eerder ’n boodskap dat ons voluit moet leef,” het hy gesê.

Die jong Steenkamp is tans by vriende op Petrusburg.


Die plaas waar die drie lede van die Steenkamp-gesin op Goeie Vrydag doodgeskiet is.



Die seun

Bloemfontein. – Hy is ’n baie stil en oulike seun wat op sy plek is, sê mnr. Johan Volsteedt, hoof van Grey-kollege (sekondêr) in Bloemfontein, oor die 15-jarige Don Steenkamp, wie se gesin op hul plaas buite Griekwastad uitgewis is.

Don is ’n gr. 10-leerling aan dié skool en is in die koshuis.

“Hy het baie geskok geklink toe ek Saterdagoggend ná die voorval met hom oor die foon gepraat het,” sê Volsteedt.

Hy het Don weer eergisteraand probeer bel, maar die seun het nie sy selfoon geantwoord nie.

“Ons dink aan hom en sodra die skool Dinsdag begin, sal ons meer weet van die begrafnisreëlings, waarna die skool verdere reëlings sal tref.”

Volsteedt sê net hy mag in sy hoedanigheid as skoolhoof inligting oor Don aan die media verskaf en nie personeel of leerlinge van dié skool nie.

Volsteedt sê hy het eergister ook heelwat SMS’e van ouers en oud-Grey-leerlinge ontvang nadat die nuus van die Steenkamp-moorde per SMS en in sosiale netwerke versprei het.

“(Die voormalige Olimpiese swemmer) Ryk Neethling het ook gebel en gesê as daar iets is waarmee hy kan help, moet ek hom net laat weet.”

Volgens Volsteedt is Don baie lief vir perde en hy neem gereeld aan uithouritte deel.


Don Steenkamp (15) voor die polisiekantoor in Griekwastad by mnr. Ben Heckroodt en sy vrou, Hannelie.

Die dogter

Bloemfontein. – “Sy was ’n geliefde Oranje-ster,” sê mej. Mariehetta Matthee, skoolhoof van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein, oor Marthella Steenkamp (14), wat saam met haar ouers op hul plaas buite Griekwastad doodgeskiet is.

Marthella was ’n gr. 9-leerling aan dié skool en ’n geliefde koshuiskind, wat harte deur haar deelname aan skoolbedrywighede gewen het, sê Matthee.

Sy het in die klas, op die sportveld en as perderuiter uitgeblink.

“Sy was ’n kranige perderuiter en sou dié kwartaal verder aan Suid-Afrikaanse perdry deelgeneem het.”

Matthee sê Marthella het verlede jaar ook die Vrystaat-gimkanaspan gehaal.

Sy het vir die skool netbal gespeel en was ook lid van die tennisligaspan. “Marthella is vanjaar in die skool se o.15A-netbalspan ingesluit.”

Matthee sê Marthella het ook op akademiese gebied gepresteer.

“Sy het verlede jaar akademiese erekleure met nege vakonderskeidings ontvang.” - Christal-Lize Thomas


Mnr. Deon Steenkamp en sy dogter, Marthella.

No comments:

Post a Comment