Thursday, April 12, 2012

Aanvallers brand boer

Marlene Jordaan
Heilbron. – Sy sal nooit die gesig vergeet nie toe haar man met net sy kouse aan, en met erge brandwonde, by die huis ingehardloop het nadat hy deur plaasaanvallers aan die brand gesteek is.

So vertel mev. Connie Jansen van Rensburg oor die plaasaanval waarin haar man, Christo (36), Dinsdag omstreeks 22:00 op die plaas Page’s Bargain deur sy oop bakkievenster met ’n petrolbom gegooi is.

Hy is ook met ’n ysterpyp en klip geslaan en byna met ’n mes gesteek nadat hy weens die vlamme uit die bakkie gespring het.

“Gelukkig was daar goed in sy sak en hy het ’n dik baadjie aangehad. Die mes het nie deurgegaan nie. Hulle het hom ook probeer terugdruk in die brandende bakkie,” sê mev. Jansen van Rensburg. “Toe gooi hulle wéér petrol oor hom en steek hom weer aan die brand.”

Haar man het in die grond gerol en van al sy klere ontslae geraak. Hy het daarna sowat 200 m na die plaashuis gehardloop en om hulp geroep.

Jansen van Rensburg, ’n deeltydse boer, het pas van sy werk by Clover teruggekom en het net op die grondpad na die plaashuis gedraai toe hy aangeval is.

“My man het verskriklik hard terugbaklei en geskree. Toe ek die ligte aansit, moes hulle geskrik en die pad gevat het. Een het ’n klapmus aangehad. My man sê hy sal nooit die ander een se gesig vergeet nie.”

Mnr. Jansen van Rensburg is na sy huisdokter op Heilbron geneem wat sy brandwonde behandel het, waarna hy na die Mediclinic Vereeniging gebring is.

Me. Selka-Ann Badenhorst, hospitaalwoordvoerder, sê hoewel hy baie pyn verduur, gaan dit onder omstandighede goed met Jansen van Rensburg.

Hy het tweede- en derdegraadse brandwonde opgedoen.


Die uitgebrande bakkie van mnr. Christo Jansen van Rensburg staan gister by die ingang na die plaas Page’s Bargain waar hy met ’n petrolbom aangeval is. Hy is, nadat hy uit die bakkie gespring het, ook met ’n ysterpyp en klip geslaan en byna met ’n mes gesteek. Foto: Marlene Jordaan.

No comments:

Post a Comment