Tuesday, April 3, 2012

Boer vra water voordat hy sterf

Susan Cilliers



BLOEMHOF. – ’n Boer wat gister op sy plaas hier erg aangerand en beroof is, se boesemvriend het hom vasgehou en vir oulaas water gegee voordat hy gesterf het.

’n Erg getraumatiseerde mnr. Johan Venter het gister vertel hy en die vermoorde mnr. At Van der Merwe (68) was soos broers en dat hulle al van 1994 af saam geboer het. Van der Merwe was enkellopend en het nie kinders gehad nie.

Hy is vermoedelik gister-oggend vroeg in sy plaashuis in die Leeubosch-omgewing in die Bloemhof-distrik oorval. Die rowers het hom aangerand, die huis geplunder en met sy silwer Toyota RAV4 met die registrasienommer FTY 116 NW ge-vlug. Die voertuig was teen druktyd gister nog nie teruggevind nie en die rowers steeds op vrye voet.

Venter het vertel hy het gister oudergewoonte net ná 07:00 na Van der Merwe se plaas gegaan om werkers daarheen te neem. Hy en Van der Merwe was in ’n vennootskap met mielie- en beesboerdery.

“At was nie soos altyd buite toe ek daar aankom nie,” het Venter vertel. “Ek het in die huis ingegaan en hom op die vloer gekry. Sy hande en voete was vasgebind. Sy een oog was toegeswel en sy hele kop was geswel.”

Van der Merwe kon nog met Venter praat. “Hy het vir water gevra. Ek het hom opgetel, sy hande losgemaak en vir hom water gegee. Hy het baie swaar gesluk.” Van der Merwe het aan Venter gesê hy ken nie die rowers nie. Venter het Van der Merwe alleen gelos terwyl hy rondgeloop het na waar hy ’n selfoonsein kon kry om hulp te ontbied. Toe hy weer by Van der Merwe kom, het dié sy bewussyn verloor. Hy was reeds dood toe ambulanspersoneel later opdaag.

Volgens Venter het die rowers ’n gat onder die geëlektrifiseerde heining deurgegrawe. “Hulle het deur ’n venster in die sitkamer die huis binnegekom.”

Brig. Thulane Ngubane, kommunikasiehoof van die polisie in Noordwes, het gesê dis onse-ker of nog items behalwe die RAV4 gesteel is omdat die plaashuis in ’n chaotiese toestand was weens die rowers se plundery.

Die polisie ondersoek klagte van huisroof, moord en diefstal.

Die polisie het ’n beroep gedoen op enigiemand met inligting of indien die RAV4 gewaar word, om 08600-10111 te bel. “Moenie die rowers konfronteer nie, hulle kan gewapen en gevaarlik wees,” het Ngubane gesê.


- Volksblad

No comments:

Post a Comment