Monday, April 23, 2012

Geskiet terwyl hy pleit

Piet Matipa
Hy het vir die rowers gesê hulle kan vat wat hulle wil, solank hulle hom en sy gesin net nie seermaak nie. Toe skiet hulle hom in die voorkop.

Mnr. Johan (Jo) Erasmus (40) se pleidooie Saterdagoggend vroeg aan vyf inbrekers in die gesin se hoewehuis naby die Rietvleidam by Pretoria het op dowe ore geval.

Sy lewensmaat, me. Aneke Garainer, wat vier maande swanger is, het gesien hoe Erasmus op die vloer val ná die skoot terwyl sy met ’n skootrekenaar na die vyf mans gestap het om dit vir hulle te gee.

Garainer het in die vroeë oggendure stemme buite die huis gehoor.

“Ek het Jo wakker gemaak en gesê daar is iemand buite die huis.”

Erasmus is met die trappe af na die grondvlak om te kyk wat aangaan. Garainer is ook na die grondvlak om haar twee kinders, Aidan (6) en Nika (8), in hul slaapkamer te gaan haal.

“Ek het my kinders na ons kamer toe gevat terwyl Jo onder besig was.”

Die vyf mans het die kombuisdeur oopgebreek en Erasmus, wat by die deur gestaan het, is bo sy regteroog geskiet net nadat hy by die inbrekers gepleit het om hulle nie leed aan te doen nie.

Garainer was op pad af om ’n skootrekenaar vir die mans te bring om hulle te paai toe sy die skoot hoor en haar lewensmaat op die kombuisvloer sien val.

“Die mans het daarna na my toe gehardloop en my met hul vuurwapen op die voorkop geslaan.”

Hulle het haar uitgevra waar nog waardevolle goed is en is uiteindelik met ’n skootrekenaar, selfone en ’n platskerm-TV weg.

“Hulle het juweliersware ook gesoek. Ek het gesê ek het nie.”

Nadat die vyf aanvallers weg is, het die kinders Garainer probeer help om Erasmus, wat baie gebloei het, in die motor te kry sodat hulle hom na ’n hospitaal kon neem.

Die kinders was histeries. Hulle is egter geen leed aangedoen nie.

Die bure het intussen opgedaag en die polisie en ’n nooddiens ontbied. Die paramedici het Erasmus op die toneel behandel en hom per ambulans na die Kalafong-hospitaal geneem, waar hy omstreeks 08:00 dood is.

Me. Sue Bisschoff, Erasmus se ma, het gister in trane gesê haar seun was nie gewelddadig nie. “Almal was mal oor hom. Hulle het geen reg gehad om my kind te vat nie.”

Garainer het vertel dat haar kinders hom “space dad” genoem het omdat hy hulle altyd van die planete geleer het.

Sy verwag hul eersteling.

“As dit ’n seun is, gaan ek hom Jo noem. As dit nie vir hom was nie, sou ons baie erger seergekry het.”

No comments:

Post a Comment