Tuesday, April 17, 2012

Lokval-moord

Ügen Vos
'n Voormalige provinsiale krieketspeler wat destyds as “die volgende Graeme Pollock” beskryf is, is gister helder oordag in ’n fyn beplande aanval by ’n vulstasie koelbloedig doodgeskiet.

Mnr. Louis Vorster (46) het gister omstreeks 13:50 by die Total-vulstasie naby die Lanseria-afrit op die N14-snelweg tussen Krugersdorp en Pretoria stilgehou om ’n paar goedjies in die kitswinkel te koop.

Toe hy enkele minute later van die vulstasie se parkeerterrein wou vertrek, het ’n silwer Polo GTI reg agter sy Toyota ingetrek en sy pad versper.

Drie rowers het sy motors van alle kante omsingel. Een het sy deur oopgemaak en hom drie keer geskiet. Nog een het die deur aan die passasierskant oopgemaak en ’n pakkie gevat.

Die aanvallers het vinnig in hul motor geklim en weggery.

’n Kennis van Vorster wat op die toneel was, het na verneem word aan personeellede van die vulstasie gesê hy vermoed dat Vorster ’n pakkie met diamante by hom gehad het.

Die polisie wou dit nie bevestig nie. Volgens hulle is die ondersoek nog in ’n vroeë sta­dium en sal alle inligting opgevolg word.

Die kennis het gesê die diamante is moontlik die rede vir die sluipmoord.

Vorster, wat op pad na die Lanseria-lughawe by die vulstasie stilgehou het, het na verneem word ’n groot wildplaas in Namibië besit.

Hy het verlede jaar nog vir ’n klub in Na­mibië gespeel en gedroom om dié land eendag in die Wêreldbeker-krieketreeks te verteenwoordig.

Vorster het na verneem word ook verskeie vulstasies in Pretoria besit en was onder meer betrokke by beesboerderye.

Sy onderneming Morgan Air het uitvoerblomme en -vrugte na Europa vervoer. Hy was ’n baie suksesvolle sakeman, is gesê.

Op veiligheidsvideo’s van die vulstasie se kringtelevisie kan duidelik " gesien word hoe die aanvallers hom spesifiek geteiken het. Hulle het by ’n petrolpomp stilgehou en op ’n afstand stelling ingeneem terwyl hulle gewag het dat hy uit die winkel kom.

Dit is op die video duidelik dat hulle net belanggestel het in die pakkie op die voorste sitplek.

Die man wat hom geskiet het, het vermoedelik ’n knaldemper aan sy vuurwapen gehad, want verskeie ooggetuies het gesê die skote het “baie vreemd” geklink en was “sagter as wat ’n mens sou verwag”.

Lt.kol. Tshisikhawe Ndou, provinsiale polisiewoordvoerder, het gister gesê hy kan niks oor die voorval sê nie.

Vorster, ’n linkshandige kolwer wat vir onder meer Namibië, Matabeleland, Transvaal, Noord-Transvaal, Noordwes en Worcestershire in Brittanje gespeel het, het sy loopbaan in eersterangse krieket in die 1985-’86-seisoen begin.

Hy het 4 786 lopies teen ’n gemiddelde van 33.23 lopies aangeteken, met 188 lopies sy beste in 'n kolfbeurt.

Sy laaste wedstryd in eersterangse krieket was vir Namibië teen Oostelikes, in Oktober 2009 in Windhoek.

Vorster is in 1966 in Potchefstroom gebore en word oorleef deur sy vrou, Rika, en ’n tienerseun.

’n Geskokte mnr. Joubert Strydom, voormalige Noord-Transvaalse spanmaat van Vorster, het gisteraand vertel van Vorster se droom om Namibië in die Wêreldbeker-kriekettoernooi te verteenwoordig.

“Hy was nog altyd ’n knap ou en ’n baie goeie kolwer. Hy was iemand met wie jy gemaklik oor krieket kon gesels, veral oor die taktiese en sielkundige aspekte van die spel.”

Mnr. Hugh Page, wat saam met Vorster in Transvaal se “mean machine”-era gespeel het, het gesê sy vriend sou hom beslis nie met skelmstreke opgehou het nie.

“Louis was ’n helse goeie sakeman en ’n stil, nederige familieman wat altyd ’n lae profiel gehandhaaf het.

“Hy was ’n fantastiese mens en ek is diep geskok en heeltemal verpletter oor sy dood,” het Page gesê.

No comments:

Post a Comment