Monday, April 23, 2012

Vrou verkrag toe drie plaas aanval

Hilda Fourie
’n Vrou is verkrag nadat sy en drie kollegas op ’n wildplaas buite Lephalale (Ellisras) aangeval is.

Lt.kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, het gesê drie mans het die deur van die gastehuis op die plaas gister omstreeks 07:00 oopgebreek.

Volgens Otto het die aanvallers uniforms aangehad soortgelyk aan dié wat die plaas se personeel dra. Die mans was gewapen en het handskoene gedra.

Hulle het in die gastehuis ingekom en vier werkers – drie mans en ’n vrou – oorval en vasgebind.

Een van die werkers het probeer terugveg, maar hy is met ’n vuurwapen oor die kop geslaan.

“Die vrou is na ’n kamer geneem waar ’n verdagte haar verkrag het,” het Otto gesê.

“Die verdagtes het die kluis verskeie kere vergeefs probeer oopkry.

“Dit blyk die meeste wat hulle gevat het, was die vleis in die vrieskas.”

Otto het gesê die mans het te voet gevlug. Teen druktyd was daar nog geen arrestasies nie.

Mnr. Louis Meintjes, president van TLU SA, het gesê wanneer aanvallers vroue verkrag, mense met strykysters brand en hulle verniel, is die motief vir plaasaanvalle nie meer net roof nie.

“As roof die motief vir plaasaanvalle was, hoekom steel hulle nie net en gaan dan weg nie? Hoekom mense verrinneweer?

“Plaasaanvalle is intimidasie om druk op kommersiële boere te plaas.”

Luidens TLU SA se statistieke van voorvalle wat hulle in die media kry en deur lede wat voorvalle aanmeld, was daar vanjaar landwyd al 35 aanvalle op plase en kleinhoewes waartydens 13 mense vermoor is.

“Die aanvalle vanjaar neem drasties toe.

Daar is beslis nie ’n afname soos wat die polisie te kenne wil gee nie,” het Meintjes gesê.

“As ’n mens met die polisie en kenners oor plaasaanvalle praat, is daar ’n tendens dat almal roof die motief noem. Dit kan nie wees nie. As ’n vrou verkrag word, is roof nie meer die motief nie.”

No comments:

Post a Comment