Monday, April 9, 2012

Lig is uit Don se oë’

Charné Kemp
Griekwastad. – “Die lig is uit klein Don se oë, hoewel hy kalm voorkom.

“Hy het gehuil toe die polisie verduidelik wat gebeur in ’n lykskouing.”

So sê me. Marianna Smith, tante van Don Steenkamp (15), wie se ouers, mnr. Deon (44) en me. Christel Steenkamp (43), en sy suster, Marthella (14), op Goeie Vrydag in hul plaashuis doodgeskiet is.

Don is die enigste oorlewende van die treurspel.

Hy het volgens die polisie skote gehoor terwyl hy in die pakskuur besig was en het daarna op sy gesinslede se lyke in die TV-kamer afgekom.

Die vermoorde mnr. Steenkamp se twee susters, mee. Marianna Smith van Stellenbosch en Elbeth Vermaak van Pretoria, het die plaas Naauwhoek, waar die tragedie afgespeel het, gister saam met Don en hul bejaarde ouers, mnr. Don (79) en me. Bettie Steenkamp (85), besoek.

Die polisie het gister ver­klarings van plaaswerkers afgeneem.

Kol. Hendrik Swart, polisiewoordvoerder, het gesê hulle het nog nie ’n verdagte geïdentifiseer nie. “Daarom is daar nie ’n grootskaalse soektog nie. Daar word gefokus op forensiese leidrade en die ondervraging van getuies.

“Die lykskouings word Woensdag gehou.”

Steenkamp se susters het gesê die polisie is vaag in hul antwoorde.

“Ons wil ook nie gis nie. Miskien was dit jaloesie, maar ek wil niks meer sê nie. Dit bly ondenkbaar,” het Smith gesê.

“Ek is baie bekommerd oor my ma. Sy het nog glad nie gehuil nie. Dit is asof sy dit nie glo nie. My pa is baie hartseer en emosioneel.

“Deon was vir my ma alles. Hy is gebore toe sy 42 was nadat sy twee miskrame gehad het. Ek en Elbeth was mal oor ons jong boetie. Hy was agt en 11 jaar jonger as ons.

“Deon was ’n vriendelike, standvastige en verstandige mens. My man, Valdon, het ná ons kuier in Desember hier gesê Deon is so wys. En hy kon die beste uit ’n 4x4 kry!

“Christel was vreeslik hardwerkend en deeglik. Sy het haar tuisnywerheid, Scrumptilicious, lank beplan. Die koekieresepte is oor en oor getoets en ’n ordentlike sakeplan opgestel.

“Hulle was fantastiese ouers vir die twee kinders. Christel en Don het dieselfde kossmaak gehad, en het nie erg aan TV kyk gehad nie. Deon en Marthella was weer amper dieselfde mens.”

Die rou- en verassingsdiens word Donderdag 11:00 in die NG kerk Griekwastad gehou.

No comments:

Post a Comment