Monday, April 9, 2012

Gesin oorval en ontvoer

Christal-Lize Thomas



“Ek het heeltyd gebid, stilgebly en net gedoen wat hulle sê.”

Só sê mnr. Thys Rossouw (36) nadat hy, sy verloofde en haar vierjarige dogtertjie Saterdag in die vroeë oggendure deur drie gewapende mans in hul meenthuis in Uitsig, Bloemfontein, oorval, aangehou, met die dood gedreig, ontvoer en beroof is.

Die paartjie en kind is deur die rowers ontvoer om geld by ’n kitsbank te gaan trek. ’n Polisievoertuig wat naby die kitsbank verbygery het, was die paartjie en kind se redding.

Minstens vyf gesinne van Uitsig is reeds sedert verlede jaar deur ’n kapmes-bende in hul huise oorval en beroof.

Rossouw sê hul hond het aan die blaf gegaan. Die volgende oomblik is hul meenthuis se agterdeur oopgeskop. “Toe ons weer sien, het drie mans in ons slaapkamer gestaan.”

Sy verloofde se 15-jarige seun het in ’n ander slaapkamer weggekruip.

Een van die rowers het ’n vuurwapen gehad en die ander was met kapmesse gewapen.

“Wat kan ’n mens doen? Hulle het geld gesoek.”

Die paartjie het nie geld in die huis gehad nie en albei se ringe is afgeneem. Rossouw sê die man met die vuurwapen het verskeie kere gedreig hulle sal geskiet word, sou hulle iets probeer.

Die paartjie en kind is toe in Rossouw se motor ontvoer om geld uit Rossouw se bankrekening te gaan onttrek. Die rowers het gesê hulle wil R3000 hê, of die kind word doodgemaak. “Ons is eers na ’n kitsbank in Fauna, maar dit was gesluit. Hulle het toe gesê ek neuk rond.”

Die rowers het gesê Rossouw moet na die kitsbank by die Shell-vulstasie in Rocklands ry.

“Een van die rowers met ’n panga het agter my gestaan toe ek geld trek.”

Terwyl hy die geld aan een van die rowers gegee het, het ’n polisievoertuig verbygery. “Ek het om hulp geskree.”

Rossouw het die geld uit die rower se hand gegryp en die rowers het weggehardloop.

Kapt. Rulene Kühn, polisiewoordvoerder, sê een van die polisiemanne in die voertuig het die rowers agternagesit, maar kon hulle nie inhaal nie.

Klagte van huisroof en ontvoering word ondersoek.


- Volksblad

No comments:

Post a Comment