Tuesday, April 3, 2012

Apteek se eienaar en sy vrou tuis beroof

Leighton Koopman



KAAPSTAD. – Die eienaar van die apteek M-Kem in Durbanweg, Bellville, is deur twee gemaskerde mans in sy huis beroof.

Die voorval het Maandag omstreeks 23:00 in Fresnaye plaasgevind.

Mnr. Hylton Mallach (72), beter bekend as Mnr.M, en sy vrou, Maureen (70), was reeds in die bed toe die twee rowers onverwags hul slaapkamer binnegekom het.

Volgens Mallach was hulle aan die begin baie aggressief en het hulle die hele tyd geld geëis.

“Dit was ’n geweldige skok vir my en my vrou. Die twee het heeltyd vir geld gevra. Ons het die bietjie wat ons in die huis gehad het aan hulle gegee.”

Die rowers het ook sy vrou se juweliersware, waaraan sy baie sentimentele waarde heg, gebuit.

Die rowers het egter die skootrekenaar en al die ander elektriese toestelle net so gelos, het Mallach gister vertel.

Een rower het in die kamer by Mallach en sy vrou gebly terwyl die ander een die huis deursoek het. “Hulle het die huis heeltemal omgedolwe. Die plek is ’n gemors.

“Die een wat oor ons wag gehou het, het my egter verbaas. My vrou het malva-paaseiers langs die bed gehad. Die rower het die paaseiers geëet en die papier in die drom gegooi.”

In ’n stadium het hy dit oorweeg om die rower te takel, maar omdat hy nie geweet het of sy makker ’n vuurwapen het nie, het hy besluit om eerder kalm te bly.

Die twee was sowat 40 minute in die egpaar se huis en het gedreig om hulle in die badkamer toe te sluit.

Toe die rowers hulle uit die voete maak, het Mallach onmiddellik die polisie gebel. “Hulle was binne minute op die toneel.”

Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

“Twee mans het die slagoffers met messe gedreig en R2 000 kontant en juweliersware gevat. Die mans het deur die kombuisdeur toegang tot die huis verkry nadat die huishulp die deur oopgelos het,” het Van Wyk gesê.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.


- Die Burger

No comments:

Post a Comment