Wednesday, April 18, 2012

Rowers ry vrou met gekaapte kar dood

Lourensa Eckard
’n Skoonmaker is gisteroggend in Bedfordview aan die Rand doodgery toe twee mans in ’n gekaapte motor vir die polisie probeer wegjaag het.

Hulle het me. Sylvia Elliot se motor kort tevore gekaap. Haar honde was nog daarin.

Elliot het met Fluffy, ’n wit Skotse terriër, en Dory, ’n miniatuur-dobermann, in die Oriol-park gaan stap toe sy twee mans sien nader kom het.

“Die mans het verdag gelyk, toe roep ek my hondjies en klim in die kar,” het sy gesê.

Net toe sy haar deur toegemaak het, het een van die mans by haar venster verskyn en die motor se sleutels gevra.

Sy het die sleutels van haar silwerblou Honda Jazz, sowel as haar selfoon en handsak, vir hom gegee.

“Toe ek my sleutels vir hom gee, slaan hy my teen die kop met ’n stok en pluk my uit die kar.”

Volgens sers. Mduduzi Nhlabathi, woordvoerder van die Bedfordview-polisie, het die mans weggejaag en talle rooi verkeersligte verontagsaam.

Twee lede van die metropolisie was besig met wetstoepassing toe hulle die motor aangejaag sien kom.

Hulle het die motor met ’n loeiende sirene en blou ligte agternagesit, maar die 21-jarige bestuurder het hom nie daaraan gesteur nie.

Die motor het in Bedford Mews om ’n draai gejaag en die skoonmaker (33) getref. Sy is op slag dood.

Die bestuurder het met die slag beheer oor die motor verloor en in ’n muur vas gejaag.

Die man het uit die motor geklim en probeer weghardloop, maar polisielede het hom platgetrek en gearresteer.

Volgens me. Riana Taljaard, ’n familielid van Elliot, het die man beweer die polisie kan hom nie arresteer nie omdat hy minderjarig is, maar hulle het in sy ID-boekie gesien hy is 21 jaar oud.

Fluffy was nog in die motor, maar die ander kaper en Dory was skoonveld. ’n Gesinsvriend het Dory later die dag by ’n golfbaan by Gilloolys gevind.

Elliot is na die Bedford Gardens-hospitaal geneem.

Haar kakebeen is gekraak en sy het steke aan haar oor gekry.

“Dit was onnodig om my te slaan; ek was reg om my kar aan hulle te oorhandig,” het sy gesê.

Die oorledene se naam is nog nie bekend gemaak nie.

Volgens Nhlabathi word ’n saak van motorkaping ondersoek en nog ’n verdagte gesoek.

No comments:

Post a Comment