Thursday, April 12, 2012

Toeriste beroof 2 dae ná moord in Hazyview

Buks Viljoen
Vier Duitse toeriste is eergisternag by ’n vakansieoord naby Hazyview in Mpumalanga oorval en beroof.

Dit het gebeur skaars 48 uur nadat mnr. Dave Foxon, bestuurder van die Umbhaba-lodge daar, in sy huis voor sy vrou en seuntjies vermoor is.

In die jongste voorval het drie gewapende rowers eergisternag by die Böhm’s Zeederberg Country House toegeslaan. Hulle het ’n bejaarde Duitse egpaar vasgebind en van al hul besittings beroof, het sers. Gerald Sedibe, polisiewoordvoerder, gesê.

Die bende het daarna goedere uit ’n ander kamer gesteel waar ’n Duitse man en sy seun geslaap het.

Beeld verneem daar was die afgelope vier weke 13 gewapende aanvalle in Hazyview.

Kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, wou nie gister statistieke daaroor bekend maak nie. “Daar is geen krisis in Hazyview of enige ander plek in Mpumalanga nie,” het hy gesê.

“Ons doen patrollies. Sakelui en toerisme-ondernemings weet egter hulle moet ook hul eie veiligheid opskerp. Dit is deesdae die norm in die land.”

Intussen het die gemeenskap gister ’n noodforum, Hazyview Emergency Local Policing (Help), op die been gebring.

Mnr. André Botes, sameroeper, het gesê die doel is om met behulp van ’n radionetwerk beter kommunikasie binne die gemeenskap te bewerkstellig.

No comments:

Post a Comment