Monday, April 9, 2012

Rowers vra water, verwurg vrou (75) in huis

Dries Liebenberg
Durban. – Die bejaarde vrou van ’n bekende inwoner van Margate is in ’n huisrooftog vermoedelik vermoor deur twee wildvreemde mans vir wie sy kort tevore water gegee het om te drink.

Die aanvallers, wat glo met messe gewapen was, het ’n ou kamerjas só styf om me. Ria Coetzee (75) se kop en keel gebind dat haar man, Fanie (76), dit met ’n skêr moes lossny toe hy haar lyk Donderdagaand in die badkamer aangetref het.

Mnr. Coetzee is die bestuurder van die oord Margate Sands. Hy het talle oproepe ter ondersteuning ontvang ná die skokmoord, het hul seun, Pieter, gister gesê.

’n Polisietaakspan het een van die twee verdagtes eergister in die Gcilima-omgewing naby Margate in hegtenis geneem.

“Sy (me. Coetzee) was ’n goeie mens. Die mans wat al 20 jaar in die tuin werk, het smiddae bakke vol kos gekry,” het haar seun gesê.

“Sy was ook veiligheidsbewus, die laaste mens met wie só iets moes gebeur het.”

Volgens die polisie het die twee mans die oggend omstreeks 11:00 by die Coetzees se huis aangeklop en water gevra, het haar seun gesê.

Nadat sy ma die mans gehelp het, het hulle na die voorhekkie gestap, maar op die een of ander manier by die huis ingekom.

Me. Coetzee is in die sitkamer oorrompel. Nadat sy vasgebind is, het die rowers ’n DVD-speler, selfoon, videokamera, wyn en ander drank gebuit.

“Hulle het nie juis iets van waarde geneem nie,” het Coetzee jr. gesê.

Toe sy pa net ná 19:00 by die huis kom, was die huis vol rook omdat die kos wat sy vrou op die stoof gehad het toe sy aangeval is, verbrand het.

Hoewel die polisie vermoed dat me. Coetzee versmoor is, sal die uitslag van die lykskouing glo vandag beskikbaar wees.

Sy word Donderdag 10:00 uit die NG kerk in Margate begrawe.

No comments:

Post a Comment