Monday, April 23, 2012

Man veg om lewe ná skoot

Jana van der Merwe



’n BLOEMFONTEINSE pa het gisteraand in ’n kritieke toestand in die Mediclinic Bloemfontein om sy lewe geveg nadat hy gistermiddag in ’n rooftog deur twee mans oorval en koelbloedig in die voorkop geskiet is.

Mnr. Gerhard Fourie (44) se vrou, Anneke, en seun, Gerhard (16), het die hele aand in die intensiewesorgeenheid by hom gewaak nadat hy gister omstreeks 15:00 buite die onderneming Electro Trust, elektriese kontrakteurs, oorval en beroof is.

Fourie, ’n finansiële klerk, het net by die werk aangekom nadat hy ’n bedrag van sowat R10 000 vir werkers by die bank gaan haal het.

’n Kollega het gesien hoe twee mans Fourie buite sy wit Fiat-bakkie aanval. Sy het ook gesien hoe een die vuurwapen teen sy voorkop druk en die sneller trek.

“Hy het pas die bakkie gesluit toe twee mans op hom afstorm en hom aanhoudend begin slaan.”

Sy het histeries vir haar mans-kollegas agter in die kantoor geskree om te kom help.

“Die volgende oomblik het die lang een ’n vuurwapen uitgepluk. Hy het dit teen sy voorkop gedruk. Toe skiet hulle hom. Ek het net bloed gesien. Hy het net die heeltyd probeer keer,” het sy verslae gesê.

Volgens polisielede op die toneel was vier rowers betrokke. Nóg twee rowers het in die straat in ’n ou wit Toyota Corolla gewag. Die rowers het met dié motor met die geld in ’n sak gevlug.

’n Groot plas bloed en ’n leë doppie van ’n 9mm-pistool het op die toneel naby Fourie se bakkie agtergebly.

Na verneem word, is Fourie se beursie ’n paar blokke verder in Hospitaalpark opgetel.

Mev. Liezl van Wyk, van ’n nabye onderneming, het net die skoot gehoor.

“Ek het eers gedink daar was ’n ongeluk en het uitgehardloop. Toe sien ek die Corolla wat wegjaag. Die nommerplate was toegeplak; ’n mens kon niks sien nie.”

Teen druktyd was die verdagtes nog op vrye voet.

No comments:

Post a Comment