Thursday, December 9, 2010

Skurk dalk vry oor brouwerk

Janice Keogh
Weens slordige polisiewerk sal die verkragter van ’n tweejarige meisie dalk nie gevind kan word nie.

“Ek moet eendag my kind in die oë kyk en sê: ‘Mamma kon jou nie help nie, want die polisie wou nie vir Mamma help nie’,” het die ma gister aan die polisie gesê.

Haar dogtertjie is verlede Woensdag in haar ouerhuis in Heidelberg, Gauteng, wat ook as ’n plek van veiligheid vir verkragte vroue en kinders dien, verkrag.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat iemand wat ten tyde van die voorval ook in die huis ’n plek van veiligheid gevind het, verantwoordelik is.

“Hoe ironies, hier gebeur dit met my eie kind,” het haar ma gister in trane gesê.
Nadat die tweejarige se ma onraad gemerk het, is sy dadelik polisie toe. “Sy het ’n geweldige hoë koors gehad en onophoudelik gehuil.”

Die meisie se ma is deur die polisie en twee slagoffer-beskermingseenhede van bakboord na stuurboord gestuur en daar is eers drie dae later ’n verklaring van haar geneem.

Tóé eers is die kind medies ondersoek en is bevind sy is gepenetreer. Dié toetse moet binne 72 uur gedoen word om forensiese getuienis te kry.

Met die ma se eerste besoek aan die polisie het die beampte nie ’n saak aanhangig gemaak nie, maar haar na die slagoffer-beskermingseenheid verwys.

Hier kon hulle haar nie help nie omdat hulle ’n polisiesaaknommer nodig gehad het.

Dit is egter nie aan haar gesê nie, en sy is toe na ’n tweede beskermingseenheid, waar sy ook nie gehelp is nie.

Met die hulp van ’n vriendin het sy by past. Jan Combrinck, ’n voormalige kaptein in die polisie, uitgekom. Hy het haar gehelp en die polisie het uiteindelik Saterdag by die Heidelberg-polisiekantoor ’n verklaring van haar geneem.

Dáár was nie die nodige toerusting (rape kit) om ’n verkragtingsaak te ondersoek nie en dit moes elders gehaal word.

Die ma het gister ’n emosionele beroep op die polisie gedoen om ouers van verkragtingslagoffers beter by te staan.

“Ek is deur hel,” het sy aan onder andere kol. Balaraman Govindsamy, hoof van die Heidelberg-polisiekantoor, gesê.

Volgens Govindsamy is die polisie besig met ’n tugondersoek om die nalatige beampte op te spoor.

Die polisie ondersoek ook ’n klag van die ma dat ’n speurder gesê het sy moet doodseker maak haar kind is wel verkrag, anders kan ’n saak teen háár aanhangig gemaak word.

Die meisie is ’n weeskind wat wettig aangeneem is. “Ek bid dat sy nie letsels hiervan sal oorhou nie. Sy het al meer hel in haar twee jaar deurgemaak as sommige mense in hul hele leeftyd,” het haar ma gesê.

No comments:

Post a Comment