Thursday, December 9, 2010

Drie polisiebeamptes vas vir diefstal

Johannesburg – Drie polisiebeamptes is Donderdag in Magaliesburg in hegtenis geneem in verband met ‘n vragmotor-kaping wat in November plaasgevind het, het polisie in Gauteng gesê.

“Daar word beweer dat die drie beamptes aan diens was toe die vragmotor, wat met elektriese toebehore gelaai en na Botswana onderweg was, in Magaliesburg gekaap was,” het lt. kol. Tshisikhawe Ndou gesê.

Die polisiebeamptes het die vragmotor, met al die toerusting, ter waarde van R2,5 miljoen teruggevind, maar het die vrag na ‘n huis in Koesterfontein geneem voordat hulle die vragmotor ingehandig het.

Hulle het die goedere by ‘n 26-jarige Malawiër gestoor.

“Die drie sal dan elke keer wat hulle aan diens is die medepligtige besoek om van die gesteelde toerusting in klein hoeveelhede te verkoop.”

Volgens Ndou was dit ‘n wenk deur die gemeenskap wat hulle na die Malawiër se huis gelei het.

Sommige van die gesteelde goedere is gevind en die man is in hegtenis geneem.

Tydens sy hofverskyning in November het hy ‘n pleitooreenkoms aangegaan en staatsgetuie geword.

“Dit is toe dat hy gesê het dat dit die drie was wat die gesteelde goedere na sy huis geneem het,” het Ndou gesê.

Die polisiebeamptes sal na verwagting Maandag in die landdroshof op Krugersdorp verskyn.

No comments:

Post a Comment