Thursday, December 2, 2010

‘Seuns’ skiet vrou toe sy nie sak gee

André Damons
Rowers het ’n vrou gisteroggend by ’n vulstasie in Boksburg-Noord koelbloedig doodgeskiet toe hulle haar handsak wou gryp en sy haar teëgesit het.

“Hoekom het hulle nie net haar sak gegryp nie? Daar was niks geld in nie en hulle het nie eens haar foon gevat nie,” het me. Daleen Hennings (51) se man, Louis, gesê.

Die egpaar besit die Excel-vulstasie in Hoofrifweg.

Hennings het vertel sy vrou was op pad poskantoor toe om hul motors se lisensies af te haal toe die voorval gebeur het.

Sy sou daarna by vriende gaan kuier het.

Hennings was in die bank toe hy die nuus van haar skietdood kry.

Volgens kapt. Petros Mabuza, polisiewoordvoerder, het drie mans me. Hennings omstreeks 10:30 buite die vulstasie se kantoor oorval terwyl sy op pad na haar motor was.

“Hulle het haar handsak probeer gryp, maar sy wou nie laat gaan nie. Sy het haar teëgesit en toe skiet hulle haar twee keer in die bolyf en vlug met die handsak.”

Hennings het gesê hy en sy vrou het gereeld by die vulstasie gaan inloer omdat hulle “pensioentrekkers is en eindelik meer op vakansie was”.

“Sy sou die 28ste Desember verjaar het. Ons eerste kleinseun is onlangs gebore en my ander seun se vrou kraam in Februarie.

“Nou moet die kinders sonder hul ouma grootword.

“Die ANC sê dit is ’n vry land, maar dit is net vry vir die misdadigers, want hulle kan doen wat hulle wil. Gewone burgers moet altyd oor hul skouer kyk.”

’n Ooggetuie het op die toneel gesê twee seuns het die vrou oorval en na die plakkerskamp oorkant die pad gehardloop nadat hulle haar geskiet het.

Mabuza het gesê die polisie volg inligting op.

No comments:

Post a Comment