Wednesday, December 15, 2010

Plaasaanval 80 km van Lindley-biduur

Jana van der Merwe

LINDLEY. – Terwyl boere en inwoners uit die Arlington- en Lindley-gemeenskap asook lede van die polisie gister op die plaas Tweefontein, waar die Potgieter-gesin twee weke gelede vermoor is, saamgekom het om vir veiligheid op plase en rustigheid van gees te bid, het nog ’n plaasaanval sowat 80km daarvandaan buite Bethlehem plaasgevind.

Mev. Ria Vogelsang (67) van die plaas Aran is in die voorval beseer, maar het na verneem word genadiglik die paniekknoppie kon druk, wat haar en haar man, Jannie, se drie aanvallers laat vlug het.

Mev. Vogelsang is na die Hoogland-Medi-Clinic op Bethelehem gebring waar sy vir skok behandel is.

MJ Lourens berig ’n geweer is glo teen haar en haar man se kop gehou en R1400 is geroof.

Die familie was ná die voorval te geskok om te praat.

Sers. Majang Mosupa, polisiewoordvoerder, sê mev. Vogelsang is met die vuis in die gesig geslaan.

Sy is ook met ’n vuurwapen teen haar kop gedreig.

Ds. Piet Taljaard van die NG kerk op Arlington, wat ook die vermoorde Potgieter-gesin se leraar was, het gisteraand saam met die kapelaan van die Bethlehem-polisie, ds. P.A. Radebe, die emosionele biduur in Afrikaans en Sotho gelei.

Taljaard, wat die verhaal uit Matteus vertel het waar Jesus op die water loop, het gesê mense moet die ware vyand besef en gereed maak vir geestelike oorlogvoering. Hy het gesê baie mense soek antwoorde in die politiek, maar dit is nie hoekom hulle gisteraand op die plaas byeengekom het nie.

“Partymaal gebeur daar in nood ’n wonderwerk. Partymaal lyk dit asof God terugstaan. Die see is vir ons ’n simbool van krisis en angs, ’n diep dreigende boosheid, maar vir Jesus was dit ’n voetpad.”

Taljaard het gesê mense moet in dié tyd om rus en kalmte bid.

Die polisiemanne wat gehelp het om die ses verdagtes aan te keer, was ook op die gebedsbyeenkoms teenwoordig.

Daar is ook vir die regering en die polisiemag gebid om hulle krag en rustigheid van gemoed te gee om in die tyd van krisis in te gryp.

Daar is ook vir die misdadigers gebid wat die jong gesin se lewens koelbloedig geneem het.

Boere en hul plaaswerkers is hier aan die Here opgedra.

“Dit is ’n swaar pad wat die familie van die slagoffers moet stap. Ons bid vir troos en seën.”

Mev. Bokkie van Staden, ma van wyle mev. Wilna Potgieter, het kopskuddend en emosioneel heeltyd haar oë styf toegehou.

No comments:

Post a Comment