Tuesday, December 7, 2010

119 polisielede gepos wat bedrieg, korrupsie pleeg

Hilda Fourie
119 polisiebeamptes is gepos weens hul betrokkenheid by korrupsie en bedrog.

Van dié afgedanktes was 72, wat die meeste in ’n provinsie is, in Gauteng gestasioneer.

Mnr. Nathi Mthethwa, minister van polisie, het gister gesê dié polisiebeamptes en administratiewe personeel is afgedank ná “intensiewe ondersoeke weens bewerings van korrupsie en bedrog”.

Dié polisiebeamptes en administratiewe personeel was in verskillende plekke in die provinsies gestasioneer en by die hoofkantoor in Pretoria.

Mthethwa het in die parlement gereageer op ’n vraag oor die uitkoms van 362 ondersoeke rakende tugstappe weens korrupsie en bedrog teen personeellede in die 2009-’10-boekjaar.

Dié ondersoeke sluit in bewerings van finansiële wanbestuur, omkopery, vermiste dossiere en die samewerking met misdadigers in misdade soos rooftogte en voertuigkapings.

Van al die ondersoeke is 29 lede se afdankings opgeskort, het 26 ’n opgeskorte ontslag met ’n boete gekry, is 53 lede vrygespreek en is 99 sake teruggetrek.

Wes-Kaap het die tweede meeste polisiebeamptes wat afgedank is met 15 en Mpumalanga 14.

“Ons sal nooit moeg raak om ontslae te raak van die vrot appels in die polisie nie. Inteendeel, ons is nog meer vasbeslote om seker te maak dat daar net wetsgehoorsame beamptes en personeel in die polisie oorbly,” het Mthethwa gesê.

“Die polisie kan nie misdaad beveg as van sy komponente en lede by korrupsie en bedrog betrokke is nie. Ons verloor eerder 100 korrupte polisielede en hou net tien opregte, toegewyde en gedissiplineerde lede oor.”

Volgens Mthethwa is die korrupsie onder polisielede ’n rede waarom hul nuwe werwingsbeleid eerder op kwaliteit as kwantiteit fokus.

No comments:

Post a Comment