Thursday, December 9, 2010

SA wittes ly onder rassisme – FW

Leopold Scholtz
Den Haag. – Suid-Afrikaanse wit mense is nou die slagoffer van rassediskriminasie.

Oudpres. FW de Klerk het gister dié boodskap in ’n onderhoud met die Nederlandse dagblad De Pers oorgedra.

De Klerk was in Nederland om ’n lesing te gee.

Die onderhoud was hoofberig op die koerant se voorblad, saam met ’n groot foto van De Klerk, onder die opskrif “Apartheid is terug”.

In die onderhoud het De Klerk reguit gesê: “Daar is sprake van onaanvaarbare rassediskriminasie in Suid-Afrika.” Wit mense is die slagoffer van “ongebalanseerde” regstellende aksie, dus vind baie wit mense dit moeilik om werk te kry.

In die oë van baie wit mense is dit ’n nuwe vorm van rassediskriminasie.

“Dit het ongebalanseerd gebeur. Te veel swart mense het poste gekry sonder die regte opleiding of ervaring.

“Tot die ANC, die regerende party, erken nou dat groot foute gemaak is.”

In antwoord op die vraag wat Nederland se rol (met sy historiese bande met Afrikaners) moet wees, was De Klerk se antwoord dat baie wit mense meen “dat die Westerse lande, wat altyd voorgeloop het om Suid-Afrika weens apartheid te kritiseer, nou ook kennis moet neem van die sake wat verkeerd loop in Suid-Afrika.

“Die Westerlinge moet met dieselfde energie en oortuiging protesteer teen nuwe vorms van ongeregtigheid in ons land.”

De Klerk het gesê die bande tussen Nederland en Suid-Afrika kan verstewig word: “Nederlanders en Vlaminge moet met trots na Afrikaans kyk en die taal as volwaardige lid by die Nederlandse taalgemeenskap betrek.”

Hy is nie bang dat onluste uitbreek wanneer oudpres. Nelson Mandela sterf nie. Dit sal eerder ’n geleentheid skep vir
Suid-Afrikaners om weer saam skouer aan die wiel te sit.

Hy het Mandela laas by WB 2010 gesien. Hulle bel mekaar op hul verjaardae.

Ofskoon die Wêreldbeker “’n gevoel van eenheid” teweeg gebring het, het “ons in sekere sin daarna weer in ou gewoontes teruggeval”.

“Maar wat blywend is, is ons bewys aan die wêreld dat ons so ’n groot gebeurtenis kan organiseer. Nou wil ons die Olimpiese Spele reël.”

No comments:

Post a Comment