Tuesday, December 7, 2010

Man wat 3 vroue aanval: ‘In 8 tot 10 jaar is ek terug’

Virginia Keppler
“Sonder om te blik of te bloos het julle jul wapens op die vroue gerig. Dit is ’n gruwelike misdaad wat julle gepleeg het.”

Só het landdros Magriet Cook gister in die streekhof in Bronkhorstspruit gesê nadat sy die aanvallers van wyle mev. Anna Jacoba Myburgh (55), haar skoondogter, Edri (nou 28), en me. Paulina Moyana, haar huiswerker, 128 jaar tronkstraf opgelê het.

Daniel Motshwarateu (23), die Myburghs se tuinwerker, is vir effektief 74 jaar tronk toe gestuur en Helton Matsimela (28), sy medepligtige, vir 54 jaar.

“In agt tot tien jaar gaan ek weer terug wees hier,” het een van die veroordeeldes deur die tralies by die hof se aanhoudingselle geskreeu kort nadat hulle gevonnis en weggeneem is.

Die twee het die vroue in Februarie 2009 tuis oorval, in die voertuig gedwing en met hulle op die Spitskop/Sarita-pad tussen Bronkhorstspruit en Witbank rondgery. Motshwarateu het vroeër getuig hoe hulle mev. Myburgh sr. met ’n mes in die voet gesteek en haar voor die ontvoering met ’n warm strykyster op die voete en lyf gebrand het.

Motshwarateu en Matsimela het mev. Myburgh sr. in die kop, agter die linkeroor en mev. Myburgh jr. in die mond geskiet en op ’n grondpad vir dood agtergelaat nadat hulle mev. Myburgh jr. se voertuig gerol het.

Motshwarateu en Matsimela is in Oktober skuldig bevind op onder meer roof met verswarende omstandighede, poging tot moord, die besit van ’n onwettige vuurwapen, aanranding met die doel om ernstig te beseer en motordiefstal.

“Julle was daarop uit om veral die ouer dame met die strykyster te brand. Dit het alles gegaan oor geld,” het Cook gesê.

Cook het gesê die beskuldigdes het geen berou getoon nie.

Mnr. Hans Myburgh sr. (57) het ná die uitspraak met ’n bewerige stem en trane in sy oë gesê: “Dit was ’n lang tyd, maar nou kan ’n mens troos kry.

“Ek is bly dat hulle so lank tronk toe gestuur is. Die vraag is nou net hoe lank hulle daar gaan bly. Oor ’n jaar of wat kom ’n ander president dalk en dan kom hulle uit.”

Mev. Myburgh is in Januarie aan lewerversaking dood, minder as ’n jaar ná die aanslag op haar lewe.

Mnr. Henk Myburgh (32), Edri se man, het gesê: “Ek is tevrede. Die landdros het hulle geoordeel, maar God moet nog.”

Ao. Simon Malapane, die ondersoekbeampte, was verheug oor die uitspraak. “Ek wil dankie sê vir die Myburgh-familie vir hul samewerking om die saak tot in die hof te kry.”

No comments:

Post a Comment