Tuesday, December 7, 2010

Landbougroep bal ystervuis teen skurke

Marietie Louw-Carstens
Polokwane (Pietersburg). – Die landbou-organisasie TLU SA se noordstreek gaan volgende Woensdag Operasie Ystervuis uitvoer om misdaad op plase in Limpopo te probeer bekamp.

Mnr. Doors le Roux, veiligheidsvoorsitter, het gesê dit word gedoen weens die “buitengewone hoë misdaadvlakke” in die land.

Dit volg ook nadat vyf mense verlede maand in drie plaasaanvalle in Limpopo vermoor is.

Le Roux het gesê die doelwit van die oefening is om saam met die polisie misdaad te probeer voorkom. “Ons wil vir misdadigers wys daar is nie plek vir misdaad op die platteland nie,” het Le Roux gesê.

Plaaswagte in samewerking met dorpswagte gaan tydens die operasie patrollies ry. Radio- en telefoonkommunikasie gaan ook opgeskerp word.

“Daar is goeie samewerking tussen die polisie en plaaswagte en ons wil deur die operasie ’n magsvermenigvuldiging bewerkstellig.”

In twee van die drie plaasaanvalle verlede week is werkers van die vermoordes in hegtenis geneem. Twee plaaswerkers is in Zimbabwe in hegtenis geneem ná die moorde op mnr. Johan Greyvenstein (54) en sy vrou, Annelise (52) van Musina (Messina). Hulle is op Dinsdag 2 November vermoor, maar hul lyke is eers Donderdag 4 November op hul hoewe gekry.

n Werker van ’n boer, mnr. Pieter Blomerus van der Lith (65) en sy vrou, Henna, is in hegtenis geneem kort nadat hulle op ’n plaas buite Vivo vermoor is.

Hul lyke is Dinsdag 16 November gekry. Mev. Van der Lith het vermoedelik een van die aanvallers, mnr. Edward Ndou, tydens die aanval geskiet. Hy is later op die plaas dood.

Niemand is nog in hegtenis geneem vir die moord op mnr. Andrew Fourie (62) van Vaalwater nie. Hy is op Donderdag 18 November erg geslaan en met ’n gordel om sy nek in sy plaashuis rondgesleep. Hy is verlede Dinsdag dood.

No comments:

Post a Comment