Thursday, December 9, 2010

Rower skiet boer met ’n jaggeweer

Buks Viljoen
’n 32-jarige beesboer van Amersfoort lê in ’n ernstige toestand in ’n hospitaal nadat hy eergisteraand deur rowers met ’n jaggeweer geskiet is.

Terwyl mnr. Johan Schoultz hulpeloos op die grond voor sy huis op die plaas Witbank gelê het, het ’n rower bo-oor hom gestaan en hom met ’n .303-geweer in die nek geskiet.

“Dit is ’n godswonder dat hy nie dood is nie. Geen Godgeskape wese doen dit aan iemand anders nie,” het Schoultz se pa, Johan, gister gesê.

Schoultz jr. is Dinsdagaand omstreeks 20:40 by sy huis uit nadat hy ’n lawaai buite gehoor het.

Hy was skaars 4 m van die voordeur af toe ’n skoot uit die donker geklap het.

Schoultz is in die regterskouer gewond. Die aanvallers het agter ’n tuinmuur geskuil en met ’n .308-geweer op hom losgebrand.
Hy het vir sy vrou, Estelle (30), geskree om met hul babaseun, Rowan (sewe maande), in die kamer te gaan skuil.

Intussen het die drie aanvallers nader gestorm en een het hom weer geskiet, dié keer met ’n .303-geweer.

Hulle wou blykbaar nog ’n skoot op hom skiet, maar die geweer het geweier.

Terwyl hulle aan die geweer se slot gekarring het, het die .303 se magasyn uitgeval.

Die rowers het toe op die vlug geslaan sonder om iets te steel.

Schoultz het na die voordeur geloop waar hy inmekaar gesak het.

Sy vrou het hom by die huis ingesleep en mnr. Schoultz sr., wat sowat 4 km daarvandaan woon, gebel om te kom help.

Tientalle boere van die omgewing was binne minute op die toneel en het na die aanvallers begin soek.

“’n Swaar bui reën het egter uitgesak en die soektog erg bemoeilik,” het Schoultz sr. vertel.

Die polisie het ’n .308-patroondoppie en die .303-magasyn met drie patrone daarin op die toneel opgetel.

Schoultz sr. het gistermiddag self die .303-koeël uit die grond gegrawe waar sy seun geskiet is.

Schoultz jr. is ná die skietery in ’n hospitaal op Ermelo opgeneem, maar later na ’n private hospitaal in Trichardt naby Secunda oorgeplaas.

Sy toestand was gister stabiel.

’n Verdagte man is gisteroggend op een van die naburige plase opgemerk, maar die poli­- sie was te laat om hom aan te keer.

No comments:

Post a Comment