Thursday, December 9, 2010

Nutsman: ‘Dit was goeie rowers’

André Damons
Riaan Garforth-Venter, beter bekend as die Nutsman, het Sondagoggend twee gewapende rowers bedank dat hulle sulke goeie rowers is en hom en sy vrou nie seergemaak het.

Die gewapende mans het Sondagoggend omstreeks 01:30 by Garforth-Venter en sy vrou, Michelle, se huis in ’n veiligheidskompleks in Bryanston, Johannesburg, ingebreek. Hulle het deur die kamervenster van Rainn, die paartjie se agt maande oue baba, geklim.

Een van die rowers het Garforth-Venter op die grondverdieping gekry waar hy met sy skootrekenaar besig was, terwyl die ander sy vrou in die slaapkamer wakker gemaak het.

“Hy het ’n pistool teen my kop gehou en gesê: ‘Bly stil, anders maak ek jou dood.’ Toe ons in die kamer kom, het die ander man ’n pistool teen Michelle se kop gehou. Hulle het ons met ’n gordel en dasse vasgebind en op die kamervloer laat lê,” het Garforth-Venter gister vertel.

Volgens hom het klein Rainn deur die hele drama bly slaap.

“Ons was die hele tyd kalm, het saamgewerk en vir hulle gesê hulle kan vat wat hulle wil. Ek het daar gelê en na my vrou gekyk en gewonder of dit die laaste keer is dat ek haar gaan sien. Jy lê daar en wag vir die skoot en dink dit is dit. Ek het vir hulle gesê: ‘I love my wife and my child, please don’t hurt us’,” het hy gesê.

Volgens hom het die mans Michelle opgetel en met die pistool teen die kop gedwing om die kluis oop te maak waaruit hulle ’n rewolwer, geld en juwele gevat het.

Hulle het ook selfone en skootrekenaars gevat.

Volgens Garforth-Venter het een van die booswigte gesê: “Ek sien jy het ’n lieflike seun, moet nie iets ‘stupids’ doen dat hy sonder ouers grootword nie.”

Toe die rowers klaar was, het hulle die lig afgeskakel en gesê Garforth-Venter-hulle moet 15 minute lank niks doen nie.

“Toe hulle gaan, het ek vir hulle gesê: ‘Dankie dat julle sulke goeie rowers is en ons nie seergemaak het nie ... moenie mense doodmaak nie. Dit is nie nodig om mense dood te maak nie.’ Ek dink ons was gelukkig dat ons sulke goeie rowers gekry het,” het hy gesê.

Hy het gister die Randburg- polisie geloof vir hul vinnige optrede en gesê polisiebeamptes was binne drie minute op die toneel.
Ao. Johannes Maja, Randburgse polisiewoordvoerder, het die voorval gister bevestig en gesê niemand is nog gearresteer nie.

No comments:

Post a Comment