Monday, December 13, 2010

PRAAG betoog op Koster

Lede van PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep) het vanoggend voor die landdroshof op Koster betoog teen die volksmoord en geweld teen Afrikaners. Die aangeklaagdes in die moord op mev. Marthie Erasmus het aansoek om borg gedoen. Die 63-jarige mev. Erasmus is begin Desember op haar bed vasgemaak en met 'n 16-pondhamer tereggestel.

PRAAG het vier baniere met foto's van Ban Ki-moon, FW de Klerk, Jacob Zuma, Julius Malema en Nathi Mthethwa vertoon. By die foto van Ban Ki-moon verskyn die slagspreuk: "Die VN keur Afrikanervolksmoord 100% goed."

Die verdagtes is in 'n geslote hof verhoor en die media of die publiek is nie in die hofsaal toegelaat nie, omdat een van die verdagtes glo 'n minderjarige is.

Dr. Dan Roodt, leier van PRAAG, het by die hof verklaar: "Die feit dat die moordenaars in die geheim verhoor word, maak 'n bespotting van geregtigheid. Hierdie weersinwekkende moord verteenwoordig die jongste in die vlaag etnies en rasgegronde teregstellings wat tans in ons land plaasvind. Ons doen 'n beroep op die internasionale gemeenskap en die Verenigde Nasies om in te gryp en die stelselmatige uitwissing en verdrywing van ons volk te beëindig."

Roodt was ook krities oor die onlangse uitspraak van mnr. Paul van Staden, die oupa van die tweejarige Willemientjie Potgieter wat oor die afgelope tyd 'n simbool van Afrikanerlyding en -volksmoord geword het. "Mnr. Van Staden hou nie van Afrikanerprotes nie en 'berus hom by wat gebeur het'. Maar dis nie God se wil dat ons kinders, moeders en vaders uitgewis word nie. Indien mnr. Van Staden dit glo, maak hy hom skuldig aan 'n Egiptiese bygeloof van 5000 jaar gelede, van goddelike determinisme."

"Die Afrikaner mag nie in die teregstelling van ons kinders en hierdie toenemende volksmoord berus nie," het Roodt voortgegaan.

PRAAG het intussen betroubaar verneem dat klein Willemien Potgieter aan haar hare opgetel is en "op grootmenshoogte in die kop geskiet is. Hierdie weersinwekkende daad, asook die hamermoord op mev. Erasmus, mag nie ongestraf bly nie," het Roodt gesê.

No comments:

Post a Comment