Thursday, December 9, 2010

Hy soen terwyl hy verkrag

Hilda Fourie
Toe hy haar klaar verkrag het, het hy oor haar geleun, die slaapkamer­venster oopgemaak en met sy makker gepraat.

Dié makker het in die slaapkamer ingekom en haar wéér verkrag. Voor elke verkragting het sy die mans gesmeek om haar nie te verkrag nie.

Só het dié vrou, ’n werknemer van die departement van korrektiewe dienste, gister in die hooggeregshof in Pretoria getuig.
Mnre. Johannes Modise (21) en Marebele Edward Sebetsho (26), albei van Soshanguve, noordwes van Pretoria, het skuld ontken op aanklagte van huisbraak met die opset om te verkrag en te roof, verkragting en roof met verswarende omstandighede.

Hulle het verkies om hul swyg­reg te gebruik.

Die mans se slagoffer het in trane getuig wat gebeur het op 19 Augustus 2008 toe sy en haar vierjarige dogter (nou ses jaar oud) glo deur Modise en Sebe­- t­sho in hul huis op die terrein van die Baviaanspoort-gevangenis, noordoos van Pretoria, oorval is. Die meisie het voor die TV vir haar pa, wat van haar ma geskei is, gewag om haar skool toe te neem.

“Ek het my uniform aangetrek toe ek stemme in die huis hoor.

“My kind het met iemand gepraat,” het die vrou getuig.

“Ek het omgedraai en in die gang ’n swart man sien stap met my kleintjie langs hom.”

Die vrou het die man gevra wat hy wil hê. Sy het ’n vuurwapen onder sy jas gesien.

“Sssj, of ek sal jou en jou dogter doodmaak,” was sy woorde.

Hulle is na die vrou se slaapkamer waar hy haar arms agter haar rug vasgebind het.

Die man het haar gevra of sy hom onthou. Sy het eers later agtergekom hy was ’n gevangene wat skoongemaak het by die honde-eenheid waar haar eks­man gewerk het.

“Hy het my op die bed vasgedruk. Hy het sy broek uitgetrek en toe myne.

Hy het my gesoen terwyl hy my verkrag het. Toe het hy my gewurg Ek het hom gesmeek: ‘Moet my asseblief nie verkrag nie, vat al my geld, moet my asseblief nie verkrag nie.’”

Toe sy klaar verkrag is, het die man, steeds sonder sy broek, bo-oor haar geleun, die slaapkamervenster oopgemaak en met sy makker gepraat. Oomblikke later het die makker ingekom en die vrou ook verkrag.

Die mans het die vrou vasgebind en haar in ’n klerekas gedruk. Sy het met haar kop teen die deur gestamp omdat haar arms en bene vasgebind en haar mond toegebind was.

Kort daarna het haar eksman daar aangekom.

Die verhoor duur voort.

No comments:

Post a Comment