Thursday, December 9, 2010

Gesin dalk in waas van dagga vermoor

Charles Smith



LINDLEY. – Die Potgieter-gesin is glo in ’n waas van dagga vermoor, sê mnr. Salam Abram, ANC-LP, wat die moorde ondersoek.

Abram sê die vermoede is ook dat die verdagte wat glo klein Wilmien Potgieter (2) geskiet het, net voorgee hy is 17 en dus minderjarig. Dié verdagte kan selfs so oud as 24 jaar wees.

Abram het die begrafnisdiens van mnr. Attie Potgieter (40), sy vrou, Wilna (36), en hul dogtertjie gister hier in die NG kerk bygewoon en dadelik daarna begin met ’n ondersoek oor hoekom hierdie verskriklike moorde gepleeg is.

Hy wou onder meer die ses verdagtes wat deur die departement van korrektiewe dienste aangehou word, besoek, maar het verneem dat hulle na verskille dorpe uitgeplaas is.

Abram het gesê hy ondersoek wel die moontlikheid dat een van die verdagtes op parool uit was en die ander “bymekaar gekry het” vir die aanval op die Potgieters verlede week op die plaas Tweefontein.

Abram het ná die begrafnisdiens gesê Suid-Afrika beleef ’n morele krisis. Werkloosheid is ’n groot probleem, maar dit is nie genoeg rede nie. “Jy kan arm wees, maar steeds ordentlik wees.”

“As ’n mens gaan kyk na alles wat rondom ons gebeur, soos die gewese skoondogter Mathatha Tsedu, redakteur van City Press, wat in ’n huurmoord op sy seun betrokke was, dié geval, die daaglikse verkragtings en aanvalle, vrouens wat nie gerespekteer word nie, dui dit op ’n morele krisis.

“Ek glo die hele samelewing moet hierdie morele krisis aanpak en almal, ongeag wie ons is, moet onsself daartoe verbind om iets te doen sodat ons die toekoms (kan ingaan) as wesens wat deur God geskep is en mekaar kan respekteer.”

In elke gemeenskap moet die leiers oor die grense van kleur en godsdiens en status bymekaarkom en iets doen. As almal mekaar begin sien as mense, kan ’n verskil gemaak word.

“Wat hier gebeur het, behoort nie in die nuwe Suid-Afrika te gebeur nie. Ons móét almal saamstaan. As ons gesien het wat het gebeur met die begrafnis en hofsaak van Eugene Terre’blanche, is ek bly dat mense hier saamstaan.

“Ons moet die gereg sy loop laat neem. Ek het vertroue in ons regstelsel. En ek is daarvan oortuig dat die regte dinge gedoen sal word.”

Abram het gesê hy dink die geestelike gemeenskap kan ’n groot verskil maak om ’n beweging te begin om die mense bymekaar te kry.

Hy het gesê die lat kan dalk weer ingespan word om die jeug reg te kry. “Spaar die kind en lê die lat in.

“Ek meen – verkragtings in skole en geen respek begin daar onder. ’n Potensiële dief begin waar die seun iets uit sy ma se yskas steel.”

Me. Lieschen Rautenbach, ACDP-raadslid in Kroonstad, het by die begraafplaas gesê: “Dit is barbaars en skandelik dat plaasmoorde ál meer word. Die regering doen niks om op te tree nie. Ons wil aanbeveel dat die doodstraf teruggebring word vir moord en verkragting.”






- Volksblad

No comments:

Post a Comment