Monday, December 6, 2010

Plaasmoorde vereis ingryping

Geskryf deur Praag
Maandag, 06 Desember 2010 15:12
Dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus en adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye het vanoggend die verhoor van die verdagtes wat gearresteer is in verband met die grusame moord op die Potgieter-egpaar en hul driejarige dogtertjie, in die Lindley-landdroshof bygewoon.

“Die ANC-regering moet wakker skrik en plaasmoorde as ‘n prioriteitsmisdaad verklaar. Dit is baie belangrik dat die ANC-leiers hierdie tipe gewelddadige moorde in die openbaar deurlopend moet veroordeel,” het dr. Mulder gesê.

Leiers en ondersteuners van die VF Plus het vanoggend buite die Lindley-landdroshof saamgetrek om hul protes teen die apatiese houding van die regering teenoor plaasmoorde te toon.

“’n Klimaat wat tot hierdie wrede moorde lei word deur onverantwoordelike propaganda-stellings geskep. Hierdie moorde is grusaam en bevat ‘n sterk element van rassisme. ANC-leiers sing liedjies wat woorde, soos ‘Skiet die Boer’ bevat en dit skep ‘n atmosfeer van rassisme waarbinne hierdie moorde dan plaasvind,” het dr. Mulder bygevoeg.

“Boere in Suid-Afrika is die groep waaronder die meeste moorde plaasvind, gemiddeld 313 uit elke 100 000, en dan eers wetstoepassers, soos lede van die polisie, waar die syfer 153 uit 100 000 is. Die komitee wat plaasmoorde in 2003 ondersoek het, het toe reeds bevind dat die kanse dat die slagoffer in ‘n plaasaanval beseer sal word, twee maal so groot as in transito-rooftogte is. Die kanse dat die slagoffer sal sterf is drie maal so groot as in transito-rooftogte. As die Polisie transito-rooftogte as ‘n prioriteit kan beskou, des te meer behoort plaasmoorde as prioriteit beskou te word,” sê dr. Mulder.

No comments:

Post a Comment