Wednesday, March 28, 2012

Vrou veg halfnaak toe vuishoue reën

Hilda Fourie
Kaalbolyf het ’n vrou om haar lewe geveg terwyl ’n aanvaller haar met sy vuiste in die gesig geslaan het, op haar kop getrap en haar gewurg het.

Mev. Ingrid Kleingeld (65) het gister ’n neusoperasie in ’n Pretoriase hospitaal ondergaan nadat haar neus tydens dié aanval gebreek is.

Sy moet ook vir ses maande antiretrovirale behandeling ontvang nadat sy haar aanvaller se vinger gebyt het.

Dié nagmerrie-ondervinding het Vrydagoggend op Kleingeld en haar man, Chris, se wildplaas in Kameelfontein, noordoos van Pretoria, gebeur.

Om by dié wildplaas se eerste hek in te kom, het ’n mens ’n kode nodig. Die tweede hek kan net met ’n afstandbeheer deur iemand in die huis oopgemaak word.

Kleingeld en haar huiswerker was alleen tuis. Kleingeld het, net in haar kamerjas, op haar bed gelê en koerant lees.

Net ná 09:00 het die huiswerker die stofsuier aangeskakel “wat sy nooit daardie tyd van die oggend doen nie”, het Kleingeld gesê.

Kleingeld het toe ’n motordeur gehoor. Sy het by die badkamervenster en balkon gaan kyk of sy iets sien. Sy het vir die huiswerker, wat buitentoe gehardloop het, geskree om in die huis in te kom, maar dié wou nie.

Kleingeld het ’n broek aangetrek. Sy wou net ’n hemp aantrek, toe sy die eerste hou kry. “Ons het in die badkamer baklei waar hy geslaan, geskop en te kere gegaan het.

“Hy het my vyf, ses, sewe, agt keer met die vuis in die gesig geslaan, een keer op my kop getrap en my gewurg.

“Hy het my neus toegedruk. “Dit het gevoel of ek doodgaan. Toe byt ek hom.”

Ná die bakleiery het dié aanvaller en nog ’n man vir Kleingeld opgetel, op die bed neergesit en haar hande en voete vasgebind. Só, sonder ’n bloes aan, het sy op die bed gesit en kyk hoe hulle die kaste deursoek terwyl hulle vir vuurwapens en geld vra.

Die twee mans het ná sowat ’n uur gery. Die huiswerker was in ’n kamer op die onderste verdieping toegesluit.

Kleingeld kon haar voete loswikkel en het na die huiswerker gegaan wat haar gehelp het om haar hande los te kry. Sy het die noodknoppie gedruk en by die bure gaan hulp vra.

Intussen was mnr. Kleingeld op ’n visvanguitstappie in Mosambiek. Natuurbewaringsowerhede kon hom eers Saterdagoggend, ná ’n soektog van sowat ses uur, opspoor. Hy het dié aand teruggevlieg Suid-Afrika toe.

“Dit was vir my baie erg,” het Kleingeld gesê.

“Ek het gedink hier gaan ek vandag dood. Dit is my einde.

“Ek het hard baklei dat hy my nie doodmaak nie.”

Sers. Portia Maleka, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van huisroof word ondersoek. Geen arrestasies is nog gemaak nie.

No comments:

Post a Comment