Thursday, March 22, 2012

Verkoolde lyk agter stuur in veld gekry

Wolfram Zwecker
Die verkoolde lyk van vermoedelik ’n man wat eergistermiddag laas lewend gesien is toe hy sy tuinier huis toe gevat het, is gisteroggend in sy uitgebrande bakkie in die veld by die Blesbokspruit-natuurreservaat net buite Springs gevind.

Die slagoffer se bakkie is tydens die soektog na hom uit ’n polisiehelikopter gesien. Die onherkenbaar verkoolde lyk is agter die stuurwiel gevind.

Volgens kapt. Johannes Ramphora, woordvoerder van die Springs-polisie, het ’n vrou van Selcourt Woensdagmiddag haar man as vermis by die polisie aangemeld.

Die man, wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, het blykbaar laatmiddag sy tuinier weggeneem en nooit weer huis toe gekom nie.

Die polisie en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum het later na die bakkie begin soek toe daar vermoed is dat die man moontlik in ’n kaping was.

Gisteroggend is die hulp van ’n polisiehelikopter ingeroep wat die gebied by die Grootvleimyn en die Bakerton-woonbuurt gefynkam het.

Die uitgebrande Opel Corsa-bakkie is omstreeks 09:00 naby die Grootvlei-mynhoop sowat 3 km van die ingang van die Blesbokspruit-natuurreservaat opgespoor.

Die polisie vermoed dat dit die vermiste man is, maar weens die toestand van die lyk kon dit nog nie bevestig word nie, het Ramphora gesê.

No comments:

Post a Comment