Tuesday, March 13, 2012

‘Wat kan ek doen teen 4 mans?’

Gerhard Pretorius
“As ek nie vir hulle geld gee nie, gaan hulle my gang rape.”

Só het mev. Alet Badenhorst (64) gister gesê is sy gedreig toe ses mans haar en haar man, Paul (57), eergisteraand in hul huis in Skeerpoort, Noordwes, aangeval het.

Badenhorst het vertel sy was omstreeks 19:00 besig in die kombuis en haar man het die honde gaan kos gee toe ses mans hom oorval het.

Hulle het hom met ’n pistool deur die gesig geslaan en toe hy op die grond val, herhaaldelik geskop.

“Hulle het my man geboei en die huis in gebring en my dadelik deur die gesig geklap en geld geëis. Ek het gesê ons het nie geld in die huis nie, maar hulle het my net aanhou klap,” het Badenhorst gesê.

Sy het die kluis vir die mans oopgesluit en hulle het ’n pistool en vergulde eetgerei daaruit gesteel.

Badenhorst het gesê hul tuinier het in ’n stadium ingestap en die mans het hom ook geboei en aangerand.

Tydens die aanval was daar glo vier mans in die huis terwyl twee buite wag gehou het. Vyf van die aanvallers het “handwapens” gehad.

Die rowers het haar man so erg aangerand dat hy in die Mediclinic in Brits se hoësorg-eenheid opgeneem is.

Badenhorst het gesê haar man se ribbes is in die voorval gebreek en die dokters vermoed ’n ribbe het in sy long gesteek, want sy een long het platgeval.

Hul werker is ook in dié hospitaal opgeneem, maar hy is gisteroggend ontslaan.

Sy het gesê toe die mans weggehardloop het, het sy haar man en tuinier in hul kamer gaan toesluit.

Omdat die rowers almal se selfone gevat het, het ander werkers op die kleinhoewe glo Badenhorst se seun, Willie. gebel, wat toe die polisie ontbied het.

“Ek het nog nooit in my lewe so groot geskrik nie. Jy is magteloos en jy moet maak soos hulle sê. Wat kan ek doen teen vier groot mans met skietgoed?

“Ek wil vandag net huil,” het Badenhorst gesê.

Kapt. Amanda Funani, Noordwes-polisiewoordvoerder, het gesê huisroof en aanranding met die opset om ernstig te beseer word ondersoek.

Die polisie het nog niemand aangekeer nie.

No comments:

Post a Comment