Sunday, March 25, 2012

Boer ernstig aangerand deur plaasbewoners

Description
Harrismith – ’n Boer van die distrik lê in die hospitaal nadat hy met ’n mes in die gesig gesteek en met ’n ysterpyp geslaan is toe hy ’n staalstruktuur afgebreek het op ’n plaas van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral).

Tjokkie Venter (36) van die plaas Gegund is Dinsdagaand vroeg aangerand nadat hy op die plaas Uitvlugt van Sanral gewerk het.

Sanral het die plaas vroeër vir padboudoeleindes gekoop, maar mense woon steeds op die plaas.

Volgens Piet Roetz, van die plaaslike buurtwag, is Venter deur van die plaasbewoners aangerand wat sê die plaas behoort aan hulle en nie aan Sanral nie.

Dit is een van die plase wat Sanral gekoop het vir die beplande uitbreiding van die N3-roete tussen Johannesburg en Durban. Die plaashuis en pakhuise is reeds afgebreek en Venter het gister ’n staalstruktuur hier afgebreek.

Een van die plaasbewoners, sy seun en nog twee mans is in hegtenis geneem nadat Venter met ’n mes in die gesig gesteek en met ’n ysterpyp teen die kop geslaan is, sê Roetz. Venter se pa, Albert, wat saam met hom was, het die polisie ontbied.

Sers. Majang Skalkie, polisiewoordvoerder, sê ’n klag van aanranding word ondersoek.

No comments:

Post a Comment