Monday, March 12, 2012

78-jarige en werker in huis in NW oorval

Susan Cilliers
Potchefstroom. – ’n Man het gistermiddag by ’n huis op ’n hoewe in die stad ingestorm en ’n huiswerker en haar bejaarde werkgewer met ’n mes aangeval.

’n Man is enkele ure ná die voorval naby Vereeniging gearresteer, het kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, gesê.

Me. Liesbet Pilane, die huiswerker, is in die hand en nek gesteek en na die Potchefstroomse provinsiale hospitaal geneem, het haar man, Michael, gistermiddag vertel.

Hy was by die werk toe hy die oproep kry dat daar ’n stekery by sy vrou se werkplek op die hoewe was.

Me. Ada Viljoen (78), wat alleen woon, was teen druktyd in ’n stabiele toestand in die Potchefstroomse Mediclinic, waar dokters in die ongevalle-eenheid haar nog behandel het, het me. Diane King, hospitaalwoordvoerder, gesê.

Sy het vermoedelik kopwonde opgedoen, maar dit kon teen druktyd nie bevestig word nie.

Volgens Chaka was Pilane omstreeks 13:50 in die kombuis besig om skottelgoed te was toe die onbekende man uit ’n mielieland in die huis ingekom en haar aangeval het.

“Sy motief is duister, hy het niks gesteel nie,” het Chaka gesê.

Pilane het daarin geslaag om uit die huis te hardloop.

Die man het Viljoen aangeval totdat sy bewegingloos op die vloer gelê het en toe gevlug.

Me. Retha Bekker, wat twee huise van Viljoen af woon, het vertel iemand het haar net ná die voorval kom roep en gesê sy moet die polisie van die aanval laat weet.

Sy het gesukkel om te bel omdat die selfoonseine in die hoewegebied baie swak is.

“Ek het na die huis gegaan en Ada in die kombuis sien lê. Daar was baie bloed. Toe ek haar sien, het ek net gehardloop. Daar was ander mense by haar met wie sy gepraat het. Sy is vir my ’n moederfiguur.”

No comments:

Post a Comment