Thursday, March 22, 2012

Bejaardes vermoor voor kuier oorsee

Wolfram Zwecker
Die bejaarde egpaar wie se lyke eergisteraand in hul huis in Farrar­mere, Benoni, gekry is, was twee pragtige, goeie mense wat hul oudag wou geniet en daarna uitgesien het om hul seun en die kleinkinders in Australië te gaan besoek.

Hulle dood was so sinloos, het eerw. William Mostert van die Anglikaanse kerk in Farrarmere gistermiddag voor die huis gesê waar mnr. Trevor Rees en sy vrou, Laura, vermoedelik ’n paar dae gelede vermoor is. Albei was in die 80.

Hul seun, Glenn, ook ’n predikant, woon ’n paar honderd kilometer noord van Melbourne in Australië.

Hy sou gisteraand na Suid-Afrika vlieg vir die begrafnisse, het me. ­Dianne van Niekerk, ’n vriendin van die egpaar, gister gesê.

Forensiese kundiges het gisteroggend nog na leidrade in die huis in Masefieldstraat gesoek.

Volgens kapt. Alfred Nakana, woordvoerder van die Benoni-polisiegroep, het hulle die man se lyk in die buitekamer, waar hy houtwerk gedoen het, gekry.

Die vrou se lyk is op haar bed in die slaapkamer gekry. Sy het ’n paar jaar gelede ’n beroerte gekry en gesukkel om te loop. Haar loopraam het langs die bed gestaan.

Dit is nog onduidelik hoe die moordenaars by die huis ingekom het.

Die vermoede bestaan dat hulle moontlik oor ’n muur gespring het en mnr. Rees in die buitekamer aangetref het.

Hy is blykbaar met ’n hamer geslaan en verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek. Me. Rees se keel is blykbaar afgesny. Sy het vermoedelik doodgebloei.

Die toestand van die lyke het die vermoede laat ontstaan dat die egpaar reeds ’n dag of twee tevore vermoor is. In dié stadium word net die egpaar se Daihatsu Charade en sel­fone vermis. Dis onbekend of daar geld in die huis was.

Mostert het hulle verlede Donderdag laas gesien toe hy hulle dokumente vir hul beplande vakansie in Australië laat onderteken het. Hulle sou die naweek vertrek het.

“Blykbaar het die seun of vriende probeer om die egpaar te bel, maar geen antwoord gekry nie en die kerk gevra om ondersoek in te stel.

“Ek bly net so ’n straat weg en het toe Dinsdagmiddag kom kyk, maar geen antwoord gekry nie. Later het ek weer kom kyk, maar weer geen antwoord gekry nie en toe die veiligheidsbeamptes laat kom,” het Mostert gesê.

Veiligheidsbeamptes en die polisie het van die huisdeure afgebreek en die twee lyke gekry.

Niemand is nog in verband met die moorde in hegtenis geneem nie.

No comments:

Post a Comment