Sunday, March 25, 2012

Rower brand los; boer verlam

Ügen Vos
’n Boer van Magaliesburg is gedeeltelik verlam nadat hy in ’n plaasaanval in die rugmurg geskiet is.

Mnr. Bouke Tack (57) en sy vrou, Olga (53), bedryf Golden Valley, hul melkboerdery en kaasfabriek, al drie dekades sonder voorvalle.

Nou lê hy in die Milpark-hospitaal in Johannesburg sonder enige gevoel in sy een been en sal hy maande lank rehabilitasie moet kry.

Volgens me. Tack is een van die koeëls nog in sy rugmurg, maar kan die dokters dit nie verwyder nie omdat dit naby ’n sensitiewe werwel is.

Sy het gister vertel sy, haar man en hul seun Marnus (18) het verlede Sondagoggend net voor 07:00 weens blaffende honde en ’n verskriklike gehamer aan hul agterdeur wakker geword.

Hulle het ’n vreemde, gewapende man in die kombuis aangetref wat gesê het iemand slag hul beeste – en toe sy rewolwer op hulle leeg geskiet het.

“Hy was glad nie eens gespanne nie. Dit was vir hom ’n normale gesprek.”

Die egpaar het gehardloop en hul vuurwapen in die kamer gaan haal, waarna mnr. Tack twee skote op die indringer afgevuur het.

Hy het die man verwilder, maar dié het hom in sy vlugtog deur die ruit gewond.

Die aanvaller en nog vier mans het in ’n motor weggejaag.

Marnus het noodhulp op sy gewonde pa toegepas terwyl sy ma gesukkel het om ’n selfoonsein te kry en hulp te ontbied.

Sy het uiteindelik ’n buurvrou bereik en dié het die polisie en paramedici ontbied.

Die bure het mnr. Tack in die motor help laai en twee paramedici het hulle langs die pad ontmoet, waarna mnr. Tack per helikopter na Milpark geneem is.

“Oom Bouke was dadelik verlam en daar was baie bloed, maar ek het nog nooit in my lewe ’n geval gesien waar bure só saamstaan nie,” het me. Tack gesê.

Intussen het die aanvallers hulle in die polisie vasgery. Drie, onder wie ’n plaaswerker wat drie maande by die Tacks gewerk het, is aangekeer. Die skieter en nog ’n man het weggekom.

“Ek dink nie dit was ’n rasseding of dat dit oor politieke sensasie gaan nie, maar was ’n fyn beplande en afstootlike aanval,” het me. Tack gesê.

“Daar is ’n eiegeregtigheid en ’n wetteloosheid wat in Suid-Afrika posvat en of sulke aanvalle op plase of in die townships plaasvind, maak nie saak nie; iemand moet die slagoffers ’n stem gee.”

No comments:

Post a Comment