Thursday, January 13, 2011

Vryheid en demokrasie gaan agteruit

Leopold Scholtz
Den Haag - Vryheid en demokrasie het vir die vyfde agtereenvolgende jaar wêreldwyd agteruitgegaan. In Afrika en die Midde-Ooste gaan dit die slegste.

Só rapporteer die internasionale organisasie Freedom ­House in sy jaarlikse verslag oor die stand van vryheid in die wêreld.

Altesaam 194 lande en gebiede is ondersoek aan die hand van die stand van hul demokrasie, en dan gekategoriseer as vry, deels vry en onvry.

Vanjaar het 25 lande agteruitgegaan op dié indeks, terwyl 11 hul posisie verbeter het. Onder die 25 is 10 in Afrika: Burundi, die Ivoorkus, Djibouti, Egipte, Ethiopië, Guinee-Bissau, Madagaskar, Rwanda, Swaziland en Zambië.

Ofskoon Suid-Afrika onveranderd in die kategorie “vry” ingedeel word, het Freedom House se direkteur vir navorsing, dr. Arch Puddington, die land weens sy gebrek aan solidariteit met verdruktes gekritiseer. Hoewel die meerderheid so sterk staatgemaak het op internasionale maatreëls teen die apartheidsregering, “voel hulle geen solidariteit met ander mense wat in die ontwikkelingsrol ly nie,” het hy in ’n verklaring gesê.

Puddington het gesê die “aggressiwiteit en selfversekerdheid en die minagting van internasionale mening” wat die diktature kenmerk, is kommerwekkend.

Die wyse waarop China die toekenning van die Nobelprys vir vrede aan die burgerregte-aktivis Liu Xiaobo hanteer het, is ’n tipiese voorbeeld. “Geen regering – selfs nie die Sowjet-unie of Nazi-Duitsland nie – het die Nobelprys met vergelykbare minagting behandel as Beijing nie.”

Luidens die verslag was daar verlede jaar 115 demokrasieë, vergeleke met 123 in 2005, 87 state word as vry beskou, 60 as deels vry en 47 as onvry.

Die state waar die ergste onvryheid heers, is Noord-Korea, Toerkmenistan, Oesbekistan, Libië, Birma, Ekwatoriaal-Guinee, Eritrea en Somalië. Kort op hul hakke volg China, Kuba en Saoedi-Arabië.


- Die Burger

No comments:

Post a Comment