Monday, January 17, 2011

Student hoor: ‘Ek soek jou kop’

Jacques Steenkamp
Drie Tuks-studente is by ’n rotsklim-plek naby die Hartbeespoortdam oorval en langer as drie uur met messe aangehou.

Mnr. Jaco de Villiers (21) sê hy en mnre. Gert van der Walt (24) en Dennis Wevell (22) het verlede Woensdag besluit om by die Johann Rissik Estate, aan die Brits-kant van die dam, te gaan rotsklim.

“Ons het ons voertuig op ’n parkeerterrein langs die R512 gelos en sowat ’n kilometer na die gewilde Chosspile-kranse gestap. Toe ons by die piekniekplek kom, het ses gewapende mans uit die bosse gespring en ons oorval,” sê De Villiers.

Elkeen was met ’n mes gewapen en het aggressief opgetree. Die rowers het in drie groepe van twee opgedeel wat elk ’n student oorrompel en ’n mes teen elkeen se keel gedruk het.

“Ons is in die bosse in gedwing. Hulle het toe ons hande en voete met telefoonkabels vasgebind. Daarna het hulle al ons besittings gesteel,” vertel De Villiers.

Die rowers het Van der Walt se voete losgemaak en hom dieper in die bosse in geneem.

Die ander twee het gevrees hulle gaan vermoor word.

“Ek en Dennis het bekommerd geraak en wou weet wat van Van der Walt geword het. Hulle het my voete daarna losgemaak en my ook weggeneem. Ek het gedink ek gaan sterf.”

De Villiers is geneem na waar Van der Walt op sy maag met sy gesig in die grond gelê het. Wevell het kort daarna by hulle aangesluit. Al drie se voete is weer vasgebind.

“Twee van die rowers het ons bankkaarte en PIN’s gevra en is daar weg om geld by ’n kitsbank te trek,” vertel hy.

Daarna het een van die rowers aan De Villiers gesê: “Ek soek jou kop” en toe die student nie verstaan nie, het die man sy kop opgetel en met sy vingers oor De Villiers se keel gegly.

’n Ander rower het sy mes bly skerpmaak en herhaaldelik Van der Walt in sy kuite daarmee geprik.

“Die ander twee rowers het ná twee uur teruggekom en was woedend omrede hulle nie meer as ons daaglikse limiet kon trek nie. Hulle kon altesame R4 000 trek,” sê De Villiers.

Voordat die rowers gevlug het, het hulle die studente se hande losgemaak. Hulle het die voertuig se sleutel, die bankkaarte en selfone se SIM-kaarte agtergelaat.

De Villiers sê die rowers het met selfone, horlosies, kameras en klimtoerusting ter waarde van sowat R40 000 gevlug.

Mnr. Dean van der Merwe, woordvoerder van die Bergklub van Suid-Afrika, sê op 29 Desember verlede jaar is twee ander klimmers ook by Chosspile deur gewapende rowers aangeval en beroof.

“Die laaste paar jaar het rotsklimmers dieselfde probleme as fietsryers met misdaad ontwikkel. Dit gebeur al hoe meer dat klimmers deurloop onder rowers.

Dit word ’n groot probleem, want die publiek verloor toegang tot hul klimplekke,” sê Van der Merwe.

Volgens mnr. Neil Margetts, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Bergklimfederasie, het misdadigers reeds sowat vier van die meer as 12 plekke in en om Johannesburg en Pretoria oorgeneem.

No comments:

Post a Comment