Sunday, January 16, 2011

Vrou by werk doodgeslaan

Salette Cloete en Jani Meyer
’n Teller van ’n poskantoor in Johannesburg is Saterdagoggend wreed met ’n hamer vermoor toe sy klaarblyklik twee rowers verras het.

’n Deeltydse werknemer van die Highlands-Noord-poskantoor in die Balfour Park-winkelsentrum in die noordooste van Johannesburg was vermoedelik by die moord op me. Magda Frazer (42) betrokke.

Kapt. Phillip Maganedisa, ’n polisiewoordvoerder, het gesê veiligheidsbeamptes van die winkelsentrum het omstreeks 07:00 op kringtelevisie ’n man gesien wat die agterdeur van die poskantoor oopsluit.

“Hulle het die man as ’n poskantoorwerker geïdentifiseer en hulle nie verder daaraan gesteur nie.”

Frazer se man het haar dié dag om 06:30 by die werk afgelaai en Maganedisa het gesê sy is by die voordeur in. Die rowers het vermoedelik niemand so vroeg daar verwag nie.

Mnr. Mike Sears van die gemeenskapsbeveiligingsorganisasie CAP het gesê ’n klant wat later by die poskantoor opgedaag het en nie kon inkom nie, het die winkelsentrum se veiligheidsbeamptes laat weet iets skort.

“Lede van CAP en die polisie het gaan ondersoek instel en op mev. Frazer lyk afgekom.”

Kringtelevisiekameras in die poskantoor het die moord verfilm, het Sears gesê. Dit wys hoe Frazer herhaaldelik met ’n hamer geslaan word.

Een van die twee mans wat by die voorval betrokke was, is as ’n deeltydse werknemer van die poskantoor geïdentifiseer.

Die beeldmateriaal wys die mans het die poskantoor kort ná Frazer binnegekom.

Maganedisa het gesê die poskantoor se kluis is oop en leeg gevind. Persoonlike besittings van Frazer is ook geroof.

Mnr. Mark Makhubele van Orange Farm kan die polisie moontlik in hul ondersoek help, het Maganedisa gesê.

Me. Lulami Luti, ’n woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Poskantoor, het gesê hulle is “diep geskok” oor die voorval en sal alles in hul vermoë doen om die polisie by te staan
in hul ondersoek. Luti het Saterdag tyd saam met Frazer se medewerkers op die toneel deurgebring.

Sy het gesê hulle ontvang traumaberading. “Dit was ’n Saterdagoggend. Niemand het verwag so iets sou gebeur nie.”

No comments:

Post a Comment