Thursday, January 20, 2011

2 sien van dak af hoe man moor

Jacques Steenkamp
Twee mans het gisteroggend van hul werkgewer se dak in Krugersdorp gesien hoe ’n bejaarde vrou in haar erf vermoor word.

Mnre. Maxwell Nsube (41) en Bob Metshe (40) het me. Abbie Phillipson (80) hoor gil in haar erf direk langsaan dié van me. Joekie Rautenbach (70), waar hulle gewerk het.

Rautenbach het gesê sy het die werkers gevra om op die dak te klim en te kyk wat aangaan.

Nsube het gesê toe hulle in die erf kyk, het Phillipson se tuinwerker, net bekend as Star, oor haar gestaan en was hy besig om haar mond met kleefband toe te plak.

Hulle het dadelik afgeklim en Rautenbach het die polisie gebel, “maar toe niemand antwoord nie, het ek my seun Louis gebel en gevra om sy buurtwag te ontbied”.

Lede van die Mindalore-buurtwag was binne minute op die toneel. Phillipson se erf is deeglik met onder meer palissades en elektriese draad beveilig, wat beteken die buurtwaglede moes ook op Rautenbach se dak klim en oor die muur spring om toegang te verkry.

Volgens kapt. Jacob Raboroko, polisiewoordvoerder, was die Krugersdorp-polisie kort op hul hakke en het Star Phillipson vermoedelik met ’n skoenveter probeer verwurg voordat hy ’n lap in haar mond gedwing en met kleefband vasgeplak het. Sy is in die buitekamer gekry.

“Sy het nog geleef en deur haar neus asemgehaal. Ongelukkig is sy minute later by die paramedici se aankoms dood,” het Raboroko gesê.

Polisielede het Star in Phillipson se tuin opgespoor waar hy geskuil het. Hy is vir die moord in hegtenis geneem en Phillipson se juwele is in die grassnyer se bak gevind. Haar selfoon word steeds vermis.

Me. Elaine Ackerman (54), Phillipson se dogter, het gesê haar ma, wat jare lank as kassier by die Roodepoortse stadsraad gewerk het, woon reeds sedert haar pa se dood in 2003 alleen in die huis.

Sy het gesê Star het langer as drie jaar by sowat vyf gesinne in die gebied as tuinwerker gewerk.

No comments:

Post a Comment